Mate en gewigte
Dit is nie altyd duidelik watter mate en gewigte deur die skrywers gevolg word nie. As met morge die Rynlandse bedoel is, dan was hulle ruim ⅘ hektaar; die Amstellandse was egter byna ⅘ hektaar.
Ook die Rynlandse en Amsterdamse voet het in lengte verskil (31 respektiewelik ±28 cm), en so ook die duim (omstreeks 2½ cm) en die vaam of vadem (= 6 voet).
Inhoudsmate het ook gevarieer. 'n Aam wyn was gelyk aan 4 ankers of ongeveer 155 liter. 'n Okshoofd wyn was gelyk aan ¼ vat, of 6 anker = 232 liter (maar 'n okshoofd olie was slegs 225 liter).
Die legger (oorspronklik 'n ou Oos-Indiese maat) was 388 kan = 563 liter. 'n Hoed steenkool was te Amsterdam 38 mate = 11,72 hektoliter; 'n hoed kalk was 32 skepel of 8 ton = 9,81 hektoliter.
'n Mud graan (in Amsterdam op 4 skepels gestel) was 100 liter. 'n Pond (lb.) was ietwat minder as 500 gram.