Die Moormansgat en ander verhalende en natuurverse
Geseënde skaduwees
The ballad of Dick King and other poems
Van hierdie drie bundels, wat postuum verskyn het, is elkeen slegs een druk gepubliseer, onderskeidelik Johannesburg, 1948; Johannesburg, 1949; en Kaapstad, 1949. Die twee Afrikaanse versamelings is versorg deur P.J. Nienaber (in die geval van Die Moormansgat met die hulp van J.R.L. van Bruggen wat ook 'n inleiding daartoe skryf), terwyl The ballad of Dick King and other poems deur H.M.L. Bolus en R.F.M. Immelman ingelei en persklaar gemaak is. In hierdie versamelde uitgawe word die inleidings weggelaat. Van die gedigte in dié drie bundels het oorspronklik in Die Huisgenoot, Die Volkstem, Die Brandwag (1910-1922), Ons Moedertaal, Die Burger en The Cape Times verskyn, en in elke geval is die tydskrif- of koerantversie met die bundeluitgawe vergelyk ten einde die definitiewe teks vas te stel.