| |
Faustus
Die wagter op die toring sien die morester verdwyn.
Op berge in die ooste blink die bonte moreskyn.
Die Moella kyk na Mekka van die hoë minaret
En sprei sy bidtapyt uit om te kniel vir sy gebed.
Die Sultan, in satyn geklee, stap peinsend in sy tuin,
Sy pragtige paleistuin met die pragtige fontein
Waar die geur van lourierblare en van purperpers ajuin
Verming word met die wierook van lavendel en jasmyn.
Waar die goud geel kannablomme, soos 'n jongeling pragtig jonk,
En die groot blou waterlelies en die bloed rooi rose pronk.
Dis 'n nuwe dag gebore uit die skemer van die nag
Deur die koelte en die teerheid van die morelig versag.
Grys geel bulte, en daaragter lê die see
'n Glad blou-groen gelykte met 'n wit geskuimde strand,
Ewig swanger met sy storme, ewig troostend met sy vree,
Ewig wakend oor die grense van 'n weeldrig ryke land.
Is daar oorlog in die wêreld, is die oos en wes aan brand
En die Kristenkruis en lelies teen die Halwemaan gekant?
Sarasyn en Turkse ridders teen die keur van Frangistan,
En die Khalif op sy hoede in die kamp by Ispahan?
Voor eergister het die Moellas, wat presies die toekoms weet,
In geheime raadsvergadering elke kans en kant gemeet.
Hulle sê die tyd is gunstig: die gesigte wat daar blink
Op die rimpellose spieël van die uitgestorte ink
Is bewyse van die waarheid dat nog voor die nuwe maan
Op die wit kapok van Elwend sy verbleekte strale slaan,
Die groot magtige gestalte van die Kristen towenaar
Wat daar mag het in die weste in die landstreek van die Ahr,
Die die wêrelddeur beroemde Dokter Faustus, sal vergaan
In 'n worstelstryd met duiwels deur sy eie krag verslaan.
Daar staan 'n stokou grysaard by die vuurherd en geniet
Die warmte wat die houtskoolvlam nog oor sy hart kan giet,
| |
| |
'n Hart wat kil en koud is soos 'n klont gevriesde dou
Wat bly skitter op die blomblaar in die bleeke dagbreek kou.
Dis die seer geleerde Faustus in sy somber swart talaar,
Deur iedereen wat kennis het bekend as towenaar,
Wat vir die mag om geeste te betower hom te dien
En om die toekoms in kristal geopenbaar te sien,
Sy onsterflik siel verpag het vir sy tydelik profyt
Aan die Duiwel, en verdoem is tot in alle Ewigheid.
Twee pikswart wyfie katte staan aan weerskant op die wag
Elk met krom gekrulde stert en elk so swart soos middernag.
Hulle staan daar langs die vuurherd, klaar om wat hy sê te doen
En die vuurlig se weerkaatsing kleur hul glinster oë groen.
Want altwéé is regtig hekse, vroue stokoud net soos hy,
Wat kan wissel van gedaante deur die krag van towery.
Die een heet Melisanda, wat op melk en heuning v teer;
Die ander heet Nekrosa, wat dooi dinge kan regeer.
Verstyfde mense lyke, marmerwit en magteloos
Is slawe van haar septer wat sy seermaak of vertroos,
En haar maat se melk en heuning is die marteling van 'n hart
Wat kil en koud soos ryp is maar kan tril van angs en smart
In die hoeke van die kamer waar die pers swart skaduwees pak,
Oor die boonste ry van boeke op die reuse boekerak,
Fonkel duisendtal van liggies wat gedurig groei en kwyn
Net soos swewende vuurvlieggies in die skemer aandlig skyn;
Daar is groenes wat die glans het van seewater of smarag,
Daar is rooies net so fierrooi as sons ondergang se prag,
Daar is geles wat daar skitter soos die skobbe op die vel
As hy slinger deur die kraalbos van 'n goue geel kapel.
Dit is oogies van die duiwels wat daar wag hou oor sy siel
En gedurig op die loer bly dat hy nerrens neer kan kniel.
Wysheid uit die wolke-kennis uit 'n boek -
Waarheid uit die diepste put kan hy roekloos soek
In die holtes van die nag waar geen sterre troon,
In spelonke van die see waar net grys stilte woon,
In onderaardse myne waar die blinde werksvolk sweet,
In veraf wentelkringe van 'n kanniedood komeet,
Daar kan hy gaan visenteer om vinnig uit te vind
Wat die Dood beteken of die droewig kreun van wind
Huilerig soos die hooglied van 'n smart verwronge siel,
Wat die lewe wert is as die kennis hom verniel.
Hy kan traaknie agtig toor, trots op sy verstand
Met geheim gegrendel magte van 'n dooie hand,
Half verkrapte verse uit 'n vuil verslete boek -
Salomo se seel daarop en Asrael se vloek
(Altwee het geweet hoe om die wysheid te bewaar
Seker en sekuur geheim van wie ook towenaar
| |
| |
Sonder hulp en bystand uit die holtes van die hel
Uit sy eie ydelheid wil speel om te voorspel,
Voor hy eers gevorder het tot kennis om te vra
Wat die teerswart toekoms as 'n tarting vir ons dra)
Hy steek aan brand die kerse wat gemaak is van die vet
Van moordnaars wat aan galge hang geregtig volgens wet.
En met die skerp punt van die bek waar oievaars mee klap
Trek om hom op die vloer 'n kring waaroor geen gees kan trap.
Hy beskerm dit met siembole uit die heks se formulier,
Die vlerke van 'n vlermuis en die vangklou van 'n tier,
Die ruwe haar van ratel en die rugvin van die rog,
Die maanhaar van die mannetjie leo waarmee die jagter spog.
Hy neem die groot swart kierie wat net priesters mag hanteer,
Sy mosesstaf vir toordery wat blits en vloek kan keer,
Hy waan homself die meester wat die geesteryk regeer,
En stap manmoedig in die kring en tart die donnerweer.
Skel en skielik blink die blits, 'n liggloed wat verblind,
En as die donderweergalm sus dan huil die yskoud wind.
Dit ruk los die hout panne wat die bo verdieping dek,
- Dit skud die sterk koesyne om die deure oop te trek.
Dit dring die kamer binne, laat die swaar gordyne roer,
Maak dwarrel dons pilare van die stoflaag op die vloer -
'n Deurmekaar van swart en grys wat met malkander twis
Waardeur die duiwel oogies glim soos liggies in 'n mis.
Dis twaalf uur, middernag,
En rondom gryns die duiwels ongeduldig op die wag!
Dit was heerlik om hoogmoedig al sy vrinde uit te nooi
En sy tafel vir die laaste maal met blomme op te tooi,
Met resedas en rose met die allerliefste geur,
Met die swaar kristal bokale van die egte barnsteen kleur,
En die prag van goud en silwer, met juwele ryk versier,
Silwer kanne vir die rynwyn, goue skenkers vir die bier,
'n Verskeidenheid fyn spyse, oesters, kreefte rooi geverf,
Die in melk gesooide steurvis na die mode opgekerf,
Die met kundig voorbereiding opgestopte konings pou
Wie se waaier stert bo alles pronk met skitter groen en blou,
Die gebraaide bos fiesante bont versier met klatergoud.
En die wildbraad wat geskiet is in die skuiltes van die woud,
Die kosbaar groen Tokaywyn vir die keiser self bestem,
Die vlaë en die poddings wat in roomryk souse swem,
Die buitetydse vrugte byna duurder as die wyn,
En die suikergoed en lekkers met die geur van rosmaryn.
Nog Lucullus nog Belthasar het ooit op 'n ryker skaal
Of met kundiger bereiding hulle vrindekring onthaal!
Maar vir hom wat dit 'n holle, onbevredigende spel
Want gedurig deur die maaltyd het herinnering hom gekwel,
| |
| |
En voorkennis van wat voorlê voor die nuwe dag ontwaak
Het die beste brood bederwe en die wyn laat bitter smaak.
Blitslag volg op blitslag wat die starende oog verblind
En woester deur die skoorsteen tier die warrel van die wind,
In die kamer spring die katte ongeduldig teen die kring
Waarin hy, bang en huiwerig, om die geeste te bedwing,
Met sy Moseskierie tekens op die harde plankvloer trek
As die weerkaats van die blits se gloed sy bleeke hande lek,
Sy hande wat al koud is met geen krag om hom te weer
Teen die duiwels wat sy lang reedsal verpagte siel begeer.
O bitter die herinnering aan die tyd al lank verby
In die heerlik skone bergedal waardeur die Neckar gly
Tussen vrugteboorde luistrik met hul blomme oes in Mei
En die grasgroen ope akkers waar die vee op vreedsaam wy
Die tyd toe hy, 'n kind nog wat verbeeldings prikkel voel,
Op die grasperk langs die oever met 'n ander kind kon woel
In die worsteling wat maar speel is, in die stryd wat vrinde stry
Sonder voorbedag op haatlikheid of sug na heerskappy.
Die tyd toe alles groot was deur 'n kind se oog gewaar,
En die wêreld nog 'n wonder wat geen kennis kon verklaar.
Die kerkklok lui tot aanddiens, en die koor geklee in wit
Stap stadig deur die groot portaal in deftige gelid,
Die helder kinder stemme sing 'n kerklied in Latyn
Met die fraaiste klank-akkoorde en 'n statige refrein,
En agter akoliete met die swaaiende wierook vat
Wat sy geurige gomdons rondstrooi oor die grasperk langs die pad
En die ruik van voorjaarsbloeisels in die skemerlug versterk,
Volg die priester en gemeente na die kers verligte kerk.
Dis die groot promosie feesdag waar die Dekan op verskyn
In sy goud gestikte mantel met die kraag van hermelyn,
Met die seer geleerde dokters, algar wyd beroemd, vermaard,
Algar deftig in talare, algar waardig grys gebaard.
Hulle eer die beste leerling wat Magister word vandag,
Daardie bleek, beskeie jongling wat daar buite staan te wag
Tot die pedel hom sal inlei en die Dekan hom sal soen
En die ring aan hom oorhandig, soos gewoonte is van doen.
En die groot gehoor daarbinne en daarbuite die gebou
Hom met handgeklap sal toejuis - soos die menigte van hou.
Daar was toe geen spraak van toordery, geen neiging om te gryp
Na die swart geheime kennis, met verstand al kundig ryp.
Net die jeugdige verbeelding wat die wêreld kon loop verf
Met die rykste helder kleure van die reënboog oorge-erf.
Wat kon skep sy eie glorie, soos 'n digter, uit die gloed
Van gedagte en vergelyking uit 'n suiwer rein gemoed
Wat kon troos bring teen die tarting wat die lewe vir ons gee
En 'n nuwe moed kon aankweek teen die wanhoop en die wee.
| |
| |
Dis asof hy nog die Meesters sien, wat rondom hom geskaar,
Sy hand druk en hom toespreek; dis asof hy nog gewaar
Die weergalm van goedhartige gedruis wat om hom dreun
En die waardige Dekan se stem wat fluister ‘Braaf, my seun.’
Maar die duiwels oogies glinster en die katte tier daar rond
En sy stok ou hande bewe en daars skuim rondom sy mond.
In die saal sit al die vrinde nog nuusgierig op die wag,
Hy sou terugkom in 'n rukkie en dis lank oormiddernag.
Hulle hoor hoe huil die stormwind wat die huis se dak laat kraak
Hulle sien die blits wat slag op slag die donker helder maak
En die huis is vol geluide, vol van ligte wat verskyn
Skielik teen die muur en solder en dan skielik weer verdwyn.
Oor die opgetooide tafel sit sy vriende, bang en stil,
En daar bo hul stamp en raas dit en daars iets wat smekend gil.
Standpunte, V:2, Desember 1950 |
|