Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 461] [p. 461] Buite in die sterrelig Snags op my kateltjie sien ek blink sterre deur die ruit; hul skitter so helder en vriendelik - dit lyk of hul wink: ‘Kom uit!’ ‘Kom uit as jy kan, klein kêrel, en speel in ons sterreglans.’ Maar Mammie, sy sê ons moet soet slaap en nie in die koue gaan dans. Ek weet die klein kriekies kuier as die sterre so saggies skyn; hul speel hul ramkies die nag deur en dans tot die nag verdwyn. En ek glo daar is meer as kriekies wat jakker ons tuingras oor - klein skepseltjies, met wit baardjies, wat niemand kan sien of hoor. Ek het al probeer om so soetjies die blindings deur te loer, vroeg-vroeg in die môre-skemer, om te kyk waar die kleingoed boer. Maar nooit het ek een gewaar nie. En suster Magriet, sy sê: ‘Dis sommer verbeelding, boetie. Kyk, hier het jy lekkers, dè.’ Die Jongspan, 8 Mei 1936 Vorige Volgende