Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 459] [p. 459] My potklei-ossies Huis-toe, my potklei-ossies, Huis-toe, voor dit hael. Kyk hoe bewe die bossies; Kyk hoe duik die swael. Hulle weet goed wat nader - Reën en hael en wind. Bo in die lug vergader Die onweer wat verslind. Huis-toe my potklei-ossies, Kraal-toe, eer dit kom. Kyk hoe bewe die bossies; Hoor die donder brom. Word julle nat, my beeste, Dan smelt jul sommer weg Soos kaalkop-kruispad-geeste Waarmee die maanskyn veg. Jul horings wat nou so mooi is Val af, jul sterte breek, En jul moerbei-verf wat rooi is, Word aaklig sleg verbleek. Die wa kan bly; al hael dit, Hy's van sterk waatlemoen, Amper so sterk as staal; dit Maak hom net blinker groen. Maar julle is klei, my ossies, En julle is sag en teer, En, net soos klein veldklossies, Glad weerloos teen die weer. Kyk, hier's 'n huis van strandmol, 'n Skuilte net van pas - As die donder teen die rant rol Staan julle hier eersteklas. Ek dek julle toe met bossies, Met blare bruin en geel, Lê rustig en slaap, my ossies, Tot ons weer môre speel. Die Jongspan, 21 Februarie 1936 Vorige Volgende