Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Meneer Brullebalk snater Meneer Brullebalk praat; ons moet algar stilbly, Soet soos kindertjies. Luister. Hoor. Meneer Brullebalk snork, as hy eers die gril kry, So nors soos die torre die tuinmuur oor. Niemand mag nee sê; niemand mag teenpraat - Skande vir jou as jy tussenin brom. Luister bedaard as die kêrel alleen praat. Algar moet stilbly, as Brullebalk kom. Meneer Brullebalk preek; as jy luisterend daar sit Hoor jy hom sanik van A tot na Z. Oupa, wat weet hoe die ding inmekaar sit, Sê: ‘die orasie is werklik 'n pret.’ Ouma, verbaas oor die stortvloed van woorde, Meen dis per slot maar net bogpraat, my kind; Klinkend basuin sy B bas-akkoorde, - Bly tog maar stil as die ‘Meester’ begint! Meneer Brullebalk sing; laat kanarie sy kop hang En bont papegaai van jaloersheid verbleek; Meneer Brullebalk swets; hy kan elk ding ophang En elke ding afkrap, kompleet, elke week. Moet nou nie haspel, veral geen kritiek nie, Brullebalk spoor tog die mense tot lees. Flaters en foute, dit maak mos nie siek nie - Alles wat tel is die Brullebalk-gees! Meneer Brullebalk huil; dit is werklik 'n skande; Mense vervolg hom; hy weet nie waarom - Hy wat die nasie moet dra op hul hande Word deur kritieke benadeel - hoekom? Foei, dis 'n vlek op ons eer as 'n nasie; Foei, dis 'n klad op ons kuns - die kritiek! Maak vir hom plek, by die boonste 'n plasie - Geeste soos syne kan loop sonder briek! Die Volkstem, 30 Maart 1929 Vorige Volgende