Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Ons wêreld In die ploegtyd, as die skare Deur die nat vet ploegland skeur, Meng die ruik van boegoe-blare Met die nat vet ploegland-geur. Al die wêreld hou nou winter, En die dou is hard gevries: In die krakies soos 'n splinter, Op die loof soos korreltjies. In die saaityd rus die tuine En die wind vergeur die lug, Ongeduldig stap die bruine Hamerkop daar by die brug. En die koue word al kleiner En die bloute bonter bo, Alles ryper, alles fyner: In die saaityd is dit so. Daar's nog dae kort van lewe, En nog nagte uitgerek; Maar die guurheid word vergewe, Want die winter is op trek. In die oestyd word die somer Mondig as die maan vergroot; Kale bome kry nou lower, Biesies blomme in die sloot. Koekewiet speel fillipyntjie Op die hete middagstond, En die ver veld is 'n lyntjie Teen 'n lig-blou agtergrond. [pagina 455] [p. 455] Om my wemel gousblom-geure, Ruik van gerwe nuut geoes, En die land is vol met kleure, Want die winter is verwoes. In die traptyd draf die pêre Oor die fris gesmeerde vloer; Spreeus, besig met hul terre, In die wingerd maak rumoer. Bo my waai die somer-windjie, Vinkies prys in die palmiet; En meerkatjie met sy kindjie Maak 'n toertjie na die mied. Oestyd, traptyd, oos en wes toe Soek vir weega wêreld wyd, As die geel vink na sy nes toe Vlieg en fluit uit vrolikheid. Onse wêreld, onse aarde, Onse oesruik wat hier kom: Word vir ons meer as die waarde Van 'n ander heiligdom. As ek droom van nuwe kanse Wat nog in die toekoms rus, Dink ek aan ons velde en kranse Deur die oestydson gesus. Die Brandwag, 25 Maart 1917 Vorige Volgende