Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Aan Jan Celliers O slaap gerus, van smart en hartseer vry, Al donder ook die droewige wêreld deur 'n Oorlogsonweer wat die lug verskeur En met sy onmenslik' mag tot raserny Met haat en woede en wraaklus voort te stry Die volke dwing; al kan geen oog bespeur Êrens op die kim 'n skyn van dagbreek-kleur En nag nou troon met nydige heerskappy. Jou stoere siel kon uithou, ly, verdra Op moed-verloor se vlakte sonder om ooit Die skoonheid wat in lyding lê, te ontken. Jy kon tereg dit raaksien en daarna Tot rigsnoer van jou lewe maak, om nooit Te twyfel aan 'n troos so duur gewen. Vorige Volgende