Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 400] [p. 400] Die oorlogsmonument Vir dié wat in die slag geval het, staan Gekap uit marmer hierdie meesterstuk Van kunstenaarswerk. Kyk, eer jy ootmoedig buk Daarvoor in hulde, hoe die onmondige maan, 'n Skerp blink sikkel bo, sy glanse slaan Op die engelvlerke van die reus wat ruk Die dooie stryer uit onmag tot geluk, En voel jou hartstog in die maanlig taan. Wat is die Dood? Net wissel en verwelk, Verlossing van 'n lang deurleefde pyn En afstand doen van alles wat kan pla. O treur nie oor die dooies nie, want elk Het meer as jy wat moeg en afgekwyn Net lewe het en laste om te dra. Vorige Volgende