Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende In Eenoog-land In die Eenoog-land van Arimasp, vertel Ou Herodotus, woon 'n eenoog-ras Wat net na eenkant kyk en met die as Van uitgebrande blare 'n towerspel By maanlig speel, mekaar se siel te kwel Totdat die daeraad aanbreek en die las Van môrelig weer neerdaal op die gras En die blink son sy opdraand-pas versnel. Hier woon geen eenoog-ras, en tog bestaan Die towerspel wat menseharte breek Met swart verdriet, met seermaak en met ly, En bitterswaar laat kreun voordat die maan Verdwyn, en elke slag en elke steek Bewys die mag van eenoog-heerskappy. Vorige Volgende