Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Koperberg 'n Saam-akkoord van blou-groen en van bruin, Groenspaan van koper deur die tyd verkleur En uitslag-groen wat dring die rotse deur As fondament vir die verweerde kruin Van wat gestapel lê as prag in puin - Tweehonderd jaar gelede, opgebeur Deur hoop op wins, het hier 'n goewerneur In wintertyd, toe hierdie veld 'n tuin Van bloeisels was, sy laerplek geslaan, En van die water van die vars fontein Geniet en ver die wêreld oor geskou. Hier waar ek staan, het Van der Stel gestaan; Dieselfde son het op hom hier geskyn En voor hom was dieselfde puin as nou. Vorige Volgende