Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Troos Die prag van suringperke in volle fleur, Skarlakens leegtes van my vygieland, Die pers gevlekte pypies op die sand, En oral rond die wierook van die geur Van blomme-oes, die rykdom en die keur Van voorjaar se prestasie op bult en rant - 'n Tuin deur die natuur rojaal beplant, 'n Paradys van meer as reënboogkleur - Dis alles hier rondom my, en ek hoor Die kokkewiet wat langs die wapad skree En rooivlerk-spreeus wat kwetter rusteloos. Daar is geen wangeluid wat kan verstoor Die harmonie van hierdie môrevree Wat troos soos net wat skoon is ooit kan troos. Vorige Volgende