Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Ek smeek om uitstel Soms dink ek: ‘Laat die wêreld maar vergaan En ek daarmee. Aan al wat om my lewe, Is wat hul het maar net ter leen gegewe, Soos blink weerkaatste sonlig aan die maan. Wat weelderig groei, moet op sy tyd weer taan.’ Maar as ek, moedeloos, moeg na al my strewe, Met spiere mat en met 'n stem wat bewe, Nog spartel om 'n tyd lank te bestaan En nog kan dink my siel word aangespoor Tot skepping, ook al het hy nie meer krag En skaars geen lus meer nie, en op die werf In die ou plaaseikebome smiddags hoor Die vinke juig en sien die veld in prag, Dan smeek ek nog om uitstel voor ek sterf. Vorige Volgende