Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Dis lank verby Dis lank verby, die tyd waarin jy troos Vir die gevoelige hartseer van 'n kind In trane wat die smart versag, kon vind; Dis lank verby, die tyd toe jy kon bloos, Omdat jou gryp na iets net magteloos, Onseker en verniet was, en jy blind Gevolg het en vertrou het op jou vrind. Dis lank verby! Die ou verlepte roos, Eergister pragtig in sy pralende geur En vors oor al die blomme, sal hy treur Oor wat hy nou verloor het? Of die dag Wat weer vanaand moet padgee vir die nag, Sal hy ook kla? Nee, net soos dag en roos Kan jy jou ook met wat jy was, vertroos. Vorige Volgende