Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 394] [p. 394] Die onoortreflike ridder Hy was die keur van ridders in sy tyd, Die onbevlekte Bayard wie se stem Sy Bourbon-vors vermaan het, ongetem Deur smaad en hoon en broederlike nyd, Daar op die Roomse slagveld in sy stryd Reeds deur die naderende Dood omklem, Ver van die poorte van Jerusalem, En deur sy trou van al sy kragte kwyt. Daar op die doodsbaar, aan sy woord getrou, En met die doodstrek op sy bleek gesig, Het hy sy trotse vyand-vors geseën En met gebroke stem gesê: ‘Onthou, Die egte ridderskap erken sy plig, En laat die weerwraak oor aan God Alleen!’ Vorige Volgende