Print Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende III Omdat die droefnis deur moet trek soos wyn, Tot in die ingang van die siel wat voel, Om daar die kant-klaar opstyg toorn wat woel Met pure kwelling van geperste pyn Soos vuur waarvan die hitte vlam en kwyn, Met sagte weemoed-streling te verkoel, Net soos die seeverbrande seegras spoel Met sagte streling wat sy kleur verfyn; Omdat die traan so stadig afdraand gly - Omdat die sug so langsaam voort moet beur - Omdat die smart moet seermaak eer hy streel, Sal hy wat bitterswaar sy lewe ly Oor-tyd genoeg gegee word om te treur En volop tyd vir troos wat alles heel. Vorige Volgende