| |
Treurlied vir een wat dood is
O hang jou harp nie aan die wilgertak,
breek nie die luit se snare met 'n hand
wat treurend, bewerig is en alte swak
om weer daaraan te tokkel voor die brand
van hartseer uitgeblus is en verstand
weer oor vertwyfling heers. Hou goeie moed,
want smart en droef'nis is te na verwant
aan die soet vrede, wat selfs leed vergoed,
om deur jou treur te toon dat net maar smart jou voed.
Vir hom wat reggeruk is uit bereik
van die vererende vriendskap wat verfyn,
die suiwer siel ontdaan van smet of slyk,
in lewe louter - soos kristal so rein
wat deur sy helder reinheid nooit die skyn
van wat onwaar of onopreg of vuil
of vir die sterke krag daarin te klein
geglim het - moenie treur nie, moenie huil:
sy lewe het hy slegs vir iets meer werd verruil.
Hy is verlos van lang deurlye smart,
van moeilik voorttrap op 'n sware weg,
en van alleenstaan, eensaam en apart -
'n voorposstryer wat alleen moes veg
vir wat hy ag regverdigheid en reg.
| |
| |
Hy is bevry van alles wat besmet,
van roem wat roes, van agting wat versleg,
van al wat ons wat nog ons lewe het,
moet uitstaan en verdra, gehoorsaam aan die wet.
O wind wat oor die onstuimige oseaan
die koelte van die suidpool-ysveld bring
of van Egipte, waar die sfinksbeeld staan,
met sag refrein geheime akkoorde sing,
waarin die weemoed met die hartstog meng,
waai ook vir hom 'n treurlied, net so teer
en net so innig-lieflik dat dit dwing
die onverskilligste om sy naam te eer
as een van dié wat, dood, nog oor ons siel regeer.
O voorjaar met jou volop oes van kleur,
van nuut-verleende lewe, gul en vry,
verbysterende groen en borrelend' blommegeur,
van ryk belofte oral uitgesprei,
bring jy jou hulde en toon jou heerskappy
oor wat die winter woes en byna wrak
gelaat het. Sê ‘Die lourierblaar van my,
die krans gevleg uit wilde klimoptak,
ja, al wat groei en bloei hier oral op die vlak
op elke helling en bult, in elke kloof,
die oewers oor en op die ope vlei,
wat knop of bloeisel het of geilgroen loof,
wat geur besit en van die son kan kry
die sierlik' tint of glans van suiwer sy,
dit alles strooi ek as my huldeblyk,
as pront bewys van reinste medely
vir een wat arm in lewe, in skoonheid ryk,
ontydig soos 'n blom deur ryp verskroei, beswyk.’
Tel nie sy jare, Tyd, jy treur verniet.
Jou maatstaf is nie syne nie. Sy maan
het nooit sy volle strale uitgeskiet -
'n blink skyf in die lug wat tog moet taan
om dan in bleke glorie te vergaan -
maar as 'n goue sekel opgevaar
die berge oor tot waar Arcturus staan,
omring met ligtrawante wat mekaar
nog aan sy pêrelprag herinner jaar na jaar.
Hul het sy kome daar in hul sterreryk
verwelkom as die koms van een wat kry
uit eie grootsheid, wat oor alles pryk,
die reg op seggenskap en heerskappy.
Selfs in die rang van die blink sterrery
| |
| |
geen dwaalplaneet wat lig veraf moes steel
om lig in duister uit te straal, was hy,
maar self 'n ster, wat met sy vuur kan streel
die droewige vriend se hart wat menseroem verveel.
Nie lank nie was sy lewe as ons meet
die duur daarvan in dae deurgeleef,
nie lank genoeg vir hom om te vergeet
die kindersmart wat aan die jare kleef,
net soos 'n donker garing ingeweef
in die eerste lewensweefsel wat ons dra.
Net lank genoeg vir liefde om tevergeef
die terg van alles wat sy siel kon pla
en van hom meer as ooit 'n mens kon uithou, vra.
O kort en lank is niks. Net een sekond'
weeg op die weegskaal van ons noodlot meer
as duisend, mits daarin die siel deurgrond
die egte waarheid wat die lewe leer -
mits in die oomblik wat een tik verteer,
verstand en vlyt en durf tesame tref
om iets wat werklik werd is te presteer -
mits in die kort sekond' die mens besef
sy eie waarde en krag wat hom bo tyd verhef.
Vir hom was elke uur van elke dag
'n uur van doen, van diens, van dink, gewy
aan die ontginning van die godlik' krag
wat eed'le siele van die gode kry -
'n krag om mee te worstel en te stry,
'n krag om mee te woeker en te werk
totdat dit tot 'n wêreldkrag gedy
wat die heelal beïnvloed en versterk,
geslagte en eeue deur, oneindig, onbeperk.
Die waarheid was sy leidster wat as lig
geblink het voor hom in die duisternis,
rondom en oor hom stikkend, aaklig dig.
Die misverstand en tergend' broedertwis,
die nyd wat nooit iets meer as haat kon gis,
die wrede folt'ring wat vertwyfeling baar,
die pyl wat telkens net sy mikpunt mis,
die wanhoop wat die tyd nie kan verjaar -
dit alles moes hy dra en met geduld gewaar.
Nou lê sy lyk in sederhout, omring
met kranse; katjiepiering, angelier,
jasmyn, papawer en rooi rose bring
saam met die blare van lourier
hul kleurehulde om sy kis te sier.
| |
| |
En deur die luike van die blindings blink
die middagson, wat buite glansryk vier
'n aarvaalsfees vir wat die Dood vermink,
vir een wat uit sy kelk nooit mirre meer sal drink.
|
|