Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 385]
| |
My pypGa naar voetnoot1)Daar's mense wat tabak beskou
as brandstof van die bose,
en wie hul nie daarvan onthou,
groepeer as goddelose;
daar's ander weer wat vreeslik raas
op elkeen wat 'n rookwolk blaas.
Tobias Venner, eerste van
tabak se vyande, vertel
die rook gee vir die beste man
'n vrye paspoort na die hel
waar op 'n wrede folterrak
sy siel gepla word met tabak.
Koning Jakobus, in sy tyd
beroemd as taamlik slim, verklaar
die pyprook as misdadigheid,
as laster wat meer laster baar,
iets deur die duiwel uitgevind
as troos vir elke duiwelskind.
En meer as een slim dokter skryf
die rookgewoonte is regtig naar.
Dit reneweer jou siel en lyf,
dis pure gif en groot gevaar.
Ons sal subiet bewyse gee -
C twee, H vier en tien, N twee.
Dis die gevreesde nikotien
wat uit die beste Kango bruis,
met blousuur, teer en piridien,
en wie weet wat nog meer inkluis.
Hoe durf jy daagliks doodgerus
dit algar sluk om jou te sus?
En nou kom aandraf Douwie Steyn,
Onderstepoort se Venner,
farmakoloog, sekuur en fyn
en van vergif 'n kenner,
wat in sy vlugskrif alles pak
wat ooit beweer is teen tabak.
| |
[pagina 386]
| |
My goeiste! Na die deurlees van
oom Douw se Jeremiad',
kry ek bra lus om hier en dan
te sweer 'n egte JehadGa naar voetnoot2),
met al die wilskrag wat ek het
teen pyp, seroet of sigaret.
Helaas die vlees is al te swak,
my pyp al te aanlokkend.
Hier vlak langs my lê my tabak
(dis waar al is dit skokkend).
'n Saak so ernstig vorder ryp
oorweging, en ek gryp my pyp.
En as ek sedig wolk na wolk
van grysblou rook sien optrek -
die heerlik' rook wat troos vertolk
hoe nou die smart die strop trek -
dan lyk die saak glad anders ook,
hoe kras oom Douw met feite spook.
Hy toon daar aan hoe vreeslik sleg
tabakrook mense slaan;
hoe dit en dat daarin die weg
tot sieklikheid kan baan.
Dis waarlik skriklik om te hoor
hoe rook ons arme volk vermoor.
Die jong geslag wat jaarliks swoeg
onder eksamen-jukke,
van huiswerk en matesis moeg
en klasmeester se nukke,
moet weet dat hulle stellig sak
sodra hul hulp soek in tabak.
Ag, selfs 'n stokou mens soos ek
moet erg versigtig handel.
My hart begin al uit te rek,
word bros soos 'n amandel,
en dan my oë - guts, ek gril,
ek kry bepaald 'n sterker bril.
En selfs my harsings, die verswak
totdat my I.K. nul is,
alles te wyte aan tabak -
Ja waarlik, oom Okulis
wat soveel van die Duiwels weet,
het skandelik tabak vergeet.
| |
[pagina 387]
| |
Maar voordat ek iets verder lees
van omie Douw se eina,
moet ek weer eers gaan stop; ek vrees
my pyp is uit, of byna.
Iets so doodernstig kan ek pak
net met behulp van 'n pyp tabak.
En waarlik, ek beken, die rook
help logiese gedagte.
Daarsonder sou oom Douw glo ook
met sy gifkennerkragte
nie ver gekom het met die twak
wat uitgekraam word oor tabak.
Dis net 'n saak van smaak en lus,
en kom dit voor 'n hof,
dan wed ek wat jy wil, gerus,
die jurie vra verlof
om eers hul pype aan te steek
voor hul die saak met erns bespreek.
|
|