Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Had ek maar sienerskrag Wyd ope voor my oë staan Gods poorte, Wyd ope in die stergetooide nag, Die nag wat, vol van doodgaan en geboorte, Om uitleg en om openbaring wag. Die donker sluier wat neerdaal op die aarde Sluit om my soos 'n roukleed oor 'n kis, Ons deur geslagte, vlytig opgegaarde, Tot trane toe gewyde erfenis. Had ek net sienerskrag om met verbeelding Kloekmoedig deur die donker heen te kyk, Dan word vir my sy heimlikheid 'n speelding, Sy groen 'n sieraad wat my siel verryk. Dan kan ek opstyg boontoe waar planete In eindloos ewige kringe sonwaarts loop, Tot waar in buitenste donker, lank vergete, Swart sterre ronddraai, ligloos, sonder hoop. Of peil met moed tot in die diepste diepte Van oeroud kennis, byna al vergaan Die towerkuns van priesters van Egipte, Die wonderwerk van reënboog-Ekbataan. Geen sienerskrag het ek: net soos 'n kind staan By die eerste aanblik van die ongrensb're see, Staan ek hier voor 'n wonder wat my blind slaan, En net Geloof kan my vertroosting gee. Vorige Volgende