Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Bestemming Om langsaam voort te drywe langs die kant waar skaduwees van groot sier-wilgers daal op kalm, vlak water met die kleur van staal, met weegbree en watersurings langs die rand, het ek geen lus nie. Liewerster verpand die skadu-vree vir wat ek kan gaan haal as ek stroom-afwaarts skiet om te verdwaal voordat ek eindelik vind: 'n nuwe land. Die branding van die onstuimige oseaan - die reënboog bo - die boggelmaan se skyn - die skerp, getande rotse, oud soos tyd - die strand gestrooi met wrak van die orkaan - dit lok met lokking, smartelik soos 'n traan om voort te reis, vir wat sal kom, bereid: Vir selfs die hardste straf - onsterflikheid; waar wat ek is, vir altyd sal bestaan, en pyn, berou en smart nooit sal vergaan, en dubbelswaar moet wees my worstelstryd. Vorige Volgende