Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 382]
| |
Het jy jou pelgrimspligte,
Hoe bitterswaar, getrou
As egte pelgrimsvader
Altyd in oog gehou.
Jou medemens wat mismoedig
Wou ingee voor sy tyd
Geskraag met buurmansliefde,
Gehelp tot manlikheid.
Gegee eers van jou armoed
En later van jou skat
Aan dié wat hulp kom vra het
Genoeg om te versat.
Die Dood het jou kom weghaal -
Sy koms vooruit verkond -
Op dou-voor-dag se skemering,
Vroeg in die môrestond.
Jy het geweet hy wag jou
Voordat die son verskyn,
Jy't deur die ruit die sterre
Sien vaal word en verdwyn;
En toe die laaste een weg was
En die ooste se plafon
Vergrys het met die silwer
Van 'n ongebore son,
Het jy hom daar sien inkom
En vir hom dag gesê,
En in sy yskoue hande
Jou yskoud hand gelê.
Ek treur nie, want jou lewe
Was rein soos 'n diamant,
Jou voorbeeld staan as leidster
Vir elkeen in jou land.
Gun roem aan wie luidrugtig
Hul eie lof trompet;
Die toekoms weeg regverdig
En oordeel volgens wet;
Die wet wat vir die mensdom,
In voordeel of verdriet,
Verpligting, trou en waarheid
En menslikheid gebied.
| |
[pagina 383]
| |
Jy het die wet gehandhaaf
In vreugde en in smart.
Nou rus jy in jou doodkis,
Maar lewe in my hart.
My hulde - hierdie suring
Wat netnou sal verwelk,
Groen blare en die geelste
Gekleurde blommekelk -
Ek lê dit in jou hande.
Ek treur nie, want ek voel
Jou siel wat nimmer dood is,
Sal weet wat ek bedoel.
|
|