Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die bedelaar Bedelaar, waarom bedel jy? Sê vir my. Is dit vir geld om kos te koop, 'n Trippens vir drank uit die dorpskantien - Die ou pontak is soet soos stroop - Of 'n oulap vir hongerbrood miskien? Bedelaar, waarom bedel jy? Sê maar vry. Is dit om iets wat ek kan mis, Iets wat ek het en af kan staan Of is dit iets uit 'n leë kis Of iets al jare lank vergaan? Ek smeek 'n aalmoes vir my siel, Tot nou toe blind vir al wat skoon En heerlik was, wat nou besef Sy eie waardigheid verniel, Sy eie heerskappy onttroon Deur die verdrukking wat hom tref. [pagina 381] [p. 381] Ek bedel, vriend, om iets wat jy Verkwansel, net soos ek tevore Toe ek nog blind was soos jy nou - Die onskuldige, suiwere blik wat sny Deur skimme uit die nag gebore Tot in die kiem wat skoonheid hou. Ek smeek om weer my kinderjare Net vir 'n oomblik terug te kry, En om as kind alom te staar Om bo te sien die sterreskaar Soos vonkelligte ry aan ry En in die melkstraat aanmekaar. Om weer te wonder wat gebeur Daar vérweg bo en soos 'n kind Verbeelding ruimskoots kans te gee - ‘Die man wat in die maan is treur - Op goue harpe speel die wind - En teen die rotse kla die see.’ Want nou is ek 'n bedelaar Met al my wetenskap en weet Van wat hier op die aarde is; Verbeelding troos nie meer, en waar Ek graag wat sleg is wil vergeet, Maak ek my moeg van ergernis. O gee my van jou rykdom, man, En van jou onskuldigheid, my kind. Ek smeek en soebat jaar vir jaar. Nou moet ek dra meer as ek kan; Ek het verkwansel, ek was blind, En nou is ek 'n bedelaar. Vorige Volgende