Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Terugblik Die wrede tyd het smart op my gereën. Ek het gehaat, geworstel en geween, my liefde in wat nie lief is, sien vergaan, my lewenslus se luister stadig taan; wat vals is, win, en wat opreg is, sterf deur die onbarmhartige kragte van verderf. Die uiterste van droef het ek moes dra - Gethsémane verby tot Golgotha; [pagina 384] [p. 384] geen steun gevind in die aaklig' bange nag waar siele skeur en na verlossing smag; my hoop verroes, my hartstog uitgedoof, en sonder houvas êrens my geloof; puur dryfhout ek, deur stroom en wind geterg, en van 'n reus verdwaal tot in 'n dwerg. Ek het my siel vroeg van begeerte ontsmet, en sonder pyn plesier geniet en pret. Die hoë torings wat verbeelding bou die berge oor tot in die verste blou, het ek beklim van kindsbeen af, en vaak met kinderhande aan 'n ster geraak; My brandlig by komete het ek loop haal, en in die duister van die dag verdwaal. Oor droë vlaktes van 'n vlei-woestyn het kleurkastele voor my oog verskyn. En peinsend by die see het ek gehoor die sangerig' lied wat branders sing in koor, en die diepklinkend smartvolle refrein waarin hy kla sy weemoed en sy pyn; in donker kronkellane van die bos het ek gevind die vrede wat verlos, en op die vergestrekte voorjaarsveld die liefde wat die lewenslas vergeld. Vorige Volgende