Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die wrak In die diep water van die onrustige see Lê skulpe vasgeanker aan 'n rots. Hoe wild die woeste stormwind ook mag skree En branders skuim klits in hul wilde trots, Hul lê daar veilig in hul stille vree Omdring deur sagte seegras, groen en rooi, Wat tere ranke uitstrek en hul streel, En die seerose, in hul pers getooi, Met lewendige fraiings van ferweel, En fyn wit sand as 'n tapyt gestrooi. Hul hoor veraf die weeklag van die wrak Wat vroeër 'n trotse skip was en nou lê Tussen die diepsee-klippe vasgesak, Totdat die tyd genade oor hom sal hê - Soos môreson op winter-spinnerak - En van hom wegneem al wat knyp en terg, Die plig wat deur die eeue van hom verg - Meer as wat ooit 'n sterfling kan verstaan: Om te verdra wat daagliks smart vererg. Vorige Volgende