Lied aan die donker
O Gewer van al wat goed is, bron van genot en vree,
Wat aan die ontluikende skemer sy sieraad, skoonheid, gee,
En aan die see sy glorie, aan sterre van die nag
Wat op die wêreld neerkyk, hul skone sterreprag;
Jy heers in groot spelonke, waar blinde diere dwaal
En die marmot in die winter sy uitrus-slaap kom haal;
Waar dowwe daglig glinster teen rotse swart gekleur
En klamme klei se opslag die koue lug vergeur;
| |
Jy swewe in die diep myne, drieduisend voet benee
Die son- en maanverligte groot vlaktes van die see,
Waar honderdduisend slawe arbeidsaam, jaar na jaar,
Vir skatryk base skatte uit klip en kool vergaar;
Jy troon bo in die uitspansel, die koepel ster-besaai,
Waar eeue-oud komete in kring vir ewig draai
En dorre en droë planete, ontvolk en sonder lig
Geduldig deur geslagte hul daagliks taak verrig.
Aan jou is mag gegewe om wat deur lig verblind,
Met volop skyn en skitter wat slaap en rus verslind,
Weer heel te maak en helend met sagte hand te streel -
Soos 'n verliefde moeder wat met haar suigling speel.
Die moeë, pyn-vergruisde, getergde martelaar,
Wat daagliks vir sy kanker kordaat sy uithou spaar,
Vind in jou bystand balsem wat bitter smart verslaan
En moedeloosheid weer moed leen voordat jou duister taan.
Jou seën is op groot klowe waarvan die kranse skier
Soos Babilon se torings oor wolke seëvier,
Op stil en eensaam mere, skaars ooit deur wind geplooi,
En sand en klipwoestyne, met doodsbeendere bestrooi;
Jou vesting is die kerkhof, die graf waarin die lyk,
Die onbesielde liggaam van heel sy waarde ontryk,
Moet afdaal tot verguising, terwyl wat in hom woon
In jou omhelsend donker sal opstyg tot sy troon.
Aan jou is mag gegewe, voor son of ster of maan
'n Straal van storende skitter ooit wêreldwaarts kon slaan,
Om oor die onmondige skepping as eerste vors en heer
Oor chaos en verwarring in duister te regeer.
O, Keiser van die dieptes gevestig in die see,
Waaroor die las van water 'n roerloos deksel gee,
En waar vergaande wrakke, galjoene groen verkleur,
Versink in oeroud modder vir eeue lê en treur,
Waar die koraal sy kerke van rooi en wit en blou
Op sierlike uitgekerfde ivoorpilare bou,
Koorsale waar geen koorsang nog statig mis ooit styg
Deur die al-diepe duister waarin geluid verswyg.
Jou keisermag is groter as wat ooit aardse vors,
Gesteun deur troon-trawante by duisende, kan tors.
Nog Alexander, gulsig vir wêreldheerskappy,
Nog Hoemayeen nog Akbar, nog Romes' keiserry.
| |
Dit strek dwarsdeur die skepping, en elke skepsel staan
Ootmoedig as jou donker die son se lig verslaan,
Want elkeen weet geen groter of magtiger as jy
Het seggenskap oor alles solank as tyd sal bly.
Net een uit die miljoene wat voor jou krimp in vrees
Kan teen jou, Keiser, opkyk, en nogtans goedsmoeds wees -
Die blinde wat van ouds af so eens was met jou siel
Dat donker ondeurdringbaar niks vir hom kan verniel.
O, Heerser van die wêreld, o, Vors van die heelal
O, Eerste wat bestaan het en Laaste wat sal val,
Skenk ook tot my beskerming, al is dit vir 'n poos,
Die vrede van jou donker as lafenis en troos.
|
|