Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende My wolkombers My wolkombers is wit en sag; dit was voorheen 'n swaaistert-skaap. Nou dek dit vir my as ek slaap, en hou my warm die hele nag. As ek daaronder lê, verbeel ek my ek koers die Hantam in, waar winter met wit ryp begin en later met kapok kom speel. Die koue Hantam-winter knyp geniepsig elke winteraand; en lank is elke Hantam-maand, met elke môre wit met ryp. Ek lê so lekker warm; my kers brand ewe lekker, en ek voel hoe koud ook Hantam-winters woel: ek het my swaaistertskaap-kombers. Vorige Volgende