Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Ontheiliging (By die lees van onlangs gepubliseerde briewe) Soos hy wat van die rakke waar die glas Die rooi geknoeste kankergoed bewaar Vir dokters leerstof, één gaan neem en paar Aan iets wat onlangs nog 'n sieraad was; En altwee uitbring in die helder lig, Waar alles siervol blink met sonneskyn Wat selfs die seerste lelikheid verfyn Tot iets wat voor die sonstraal-skoonheid swig, En vrolik uitroep: ‘Vrinde, kom en skou Die ware werklikheid; die egte Ek Van wat dit was!’ Met hande uitgestrek, In praalrig' pronksug met sy eie rou - So het die vrind, wat vrindskap sleg verstaan, Die sielepraat wat sielsiek weemoed sug As folterpyn hom in 'n snik moet lug Of klankloos in 'n stuipkramp moet vergaan; Die tere hartstog van 'n teerder hart; Die wanhoop-liefde van 'n siel wat ly, Met roekelose wreedheid oopgesprei, En wat 'n sieraad was omskep in smart. Tot smart en pyn! Want wie kan lees, half blind, Die sielsgeheime wat die Dood bedek, Sonder dat stille meely in hom wek 'n Eed'le afsku vir die kastig' vrind! Vorige Volgende