Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 372] [p. 372] By 'n skildery van Wenning 'n Boedda met 'n groen gordyn daaragter, En goue vlekke sonskyn, lewendig Soos môreson se skitterende lig Wat deur die blare val Op ruigte in 'n dal Waaroor die rooi-els hang, Waardeur die waterstroompie afgly, sagter As deur die blaarbeskadu gras die slang. 'n Peinsende, eeu-oud Boedda met sy hande Vlak voor hom, sedig, op sy skoot gevou En oë met 'n jammer vol berou Met troos wat liefde baar In elkeen wat gewaar Hoe hoog die meely strek, Hoe hoog dit is om aardse gespe en bande Te breek, en uit sy droefnis mensesiel te trek. Die kunstenaarskleur, die kwaswerk, en die lyne. Die tegniese deursien van die groot geheel, Roep vir elkeen wat staan en skou, ‘Verbeel Wat sonder kleur bestaan, En sonder te vergaan Vir die wat sielloos sien. Hier lê my uitleg van die Lewe; myne Volmaak, en deur my sienerskrag verdien!’ Eksoties, esoteries, oosters-eie, Met dagbreeklig en kleurebont wat rym Met pure eenvoudigheid en tog geheim Soos elke oosterse ding Wat met sy aankyk bring Geheime donsegeur Van veraf bloeiende geurig speserye, Pryk daardie uitleg in prag van skadu en kleur. Vorige Volgende