Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die eerste wingerd Noag se ark was 'n nare ding, bedompig, en nou en nat. Gelukkig vir hom het dit vasgesteek op die kruin van Ararat; En Noag het somarso peil getrek op 'n klein stukkie mod'rige sand, ‘Sem, ou seun,’ het die ou gesê, ‘daar's 'n eersteklas druiweland!’ Noag se steggies was dor en droog, en die meeste was amper plat, (Dit was die olifant se skuld) op die kruin van Ararat; Maar Jafta en Sem het diep gedol en die wingerd bemes met mis, En Noag het self sy steggies loop haal uit sy bakboord-bêrekis. Noag se stokkie het mooi gegroei daar onder die kronkelpad (Hanepoot, steen, en Kanaänsoort) op die kruin van Ararat; ‘Wag tot die traptyd kom, ou seun,’ het Noag gesê: ‘Ek dink Ons kry genoeg druiwe die eerste jaar om 'n kelkie wyn te drink.’ Noag se wyn was 'n wonderwyn in 'n tuisgemaakte vat - Kuiperswerk van die ark se hout op die kruin van Ararat. ‘Plaaslike vino? Wat praat jy?’ het Noag gesê, ‘Dit skyn Hanepoot, akker, pontak en steen maak algar 'n lekker wyn!’ Noag se storie is oorvertel, want Noag was moeg en sat; Wingerd was daar en te veel vir hom, op die kruin van Ararat. Maar nou vanaand as ons matig drink, 'n sopie of drie miskien, Onthou dat die wingerd van Ararat ons ‘Dankie, Oom Noag!’ verdien. Vorige Volgende