In die oerwoud
Dis die oerwoud om my, gekruiste rottangs, lianas,
Palme, bepêreld met mos, en druipende varing-bosse.
Bruin is die lig en die stamme bruin, met strale van groen op die blare.
Hoog die gewelf van takke, bestèr met blomme-planete,
Stil aan die slaap in die middag, moeg van die stralende hitte,
Moeg van die vlammende son wat die see tot 'n wasem laat skimmer,
Moeg van die koors van die dag, verlangend die vrug in die duister,
Sag as 'n strelende hand, vleiend en fyn in sy streling.
Dis die oerwoud om my, die grote onskatbare digte van bome.
Skadu en lig as nabuur, en lig sonder skadu as kleur;
Geilte en lewe gepaard met dowwe verrotting en doodgaan;
Duister en lig as maats in 'n kombinasie van skadu,
Bruin as die ligte baard van die hangmos droog teen die takke.
| |
Hier, as jy staan te peins, in die dromerige skaduwêreld,
Vloei in 'n stroom gedagtes, jou siel in die warrelende rykdom.
Oue geloofsbelydenis, en nuwe geloof en godsdiens
Uit die natuur gebore en ryp vir 'n verdere ontknoping.
Hier moet jy glo aan goed in sy onderskeid van kwaad,
In die werklikheid van die hede en die moontlikheid van die toekoms,
En om albei te beheer deur volmondig trou aan die mensdom,
Waarvan jy 'n deel en lid is, waaraan jy as mens behoor.
Hier moet jy glo, dat dit plig is, jou nut om vir goed te werk,
Al jou bestaan deur die lewe reg op die regte te rig;
Onreg of kwaad benadeel, en ware genot spruit uit kennis,
Kennis en ondervinding deur die lewe opgedaan.
Glo dat dit nie betaam om nutteloos vrae te stel,
Glo dat die enigste leidraad is alles te toets en proef,
Alles wat goed is en billik, te hou tot die laaste toe,
Alles wat onreg en kwaad is, te weier en te laat staan.
Glo dat die lewe hier die regte loopbaan wys,
Waarop 'n mens kan wandel met trots in sy hart en trou,
Mits hy geen medemens krenk, en nooit geen kwaad gedoë.
Glo wat hiernamaals geskied, nie in jou hande lê nie,
Vir jou te reël of verander op wens van jou bidde en smeek;
Weier om perke te stel vir watter mag ook dit skik,
Glo in die krag van kennis en verwerp die krag van gesag,
Die krag van die oorlewering ongegrond op bewys,
Strydig met ondervinding en vyand met jou verstand;
Glo dat aan elk van ons gegee die reg om te oordeel,
Oordeel en onderskei na die wysheid van ondervinding;
Weier die eie oordeel te onderskik aan 'n ander
Sonder 'n oortuignis dat hy beter kan vonnis vel.
Dis die oerwoud om my, magtige magte heers hier,
Nag met sy donker sluier, en dag met sy stralende son;
Dood met sy duister hand, wat, net soos hy wil, kom doodslaan,
Lewe wat alles liefhet, en daagliks die dood bestry.
Groter dan alles die skoonheid, die mooiste van aarde en lug,
Skoonheid wat nooit nie sterwe, onsterflik die eeue deur.
|
|