Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Maliebaan In Utrecht waar die Maliebaan Die mooiste straat in Utrecht is, Waar jy op die kanaal kan gaan Vir palings in die water vis, Daar staan die Domkerk ouerwets Met Goties vensters, fyn bewerk, Waarop die swaels die dag deur swets; 'n Deftige uitgedinkte kerk, Waarvan die toring stokalleen Verwyderd van die vlerke staan, Net soos 'n kêrel op één been Wat stilstaan op die Maliebaan. Dis jare al toe hierdie kerk, Kompleet met toring aanmekaar, Gebou was, grondig, stewig sterk - 'n Pronkstuk van die messelaar. Maar skokke kom teen kerk en huis, - Teen mense en teen nasies ook - [pagina 367] [p. 367] En vlerk en toring hier inkluis Het eenmaal met 'n skok gespook. Dit het 'n stuk daarvan verskeur; Die toring van die vlerk verwy. So iets kan ook met ons gebeur, Een nasie van die ander skei. Maar tog is hierdie toring nog 'n Sieraad van die stad se kerk, Waarmee ou Utrecht steeds kan spog As eersteklas fyn messelwerk. En ons, of vlerk of toring, staan Ver in die suide stokalleen, En jy wat loop langs Maliebaan Onthou ons is al droog gespeen. Maar tog volmondig mens is kind Waarin 'n vonk van liefde glim Vir moeder, vader, meer as vrind, Solang die ouer hom bemin. En jy, wat op die Maliebaan In Utrecht sonskyn ons bedink, Glo ons wil deur die lewe gaan Broervrinde, tot jou land verdrink. Versuip in water wat hom vroeër Sy volle vryheid het gegee. Ja, tot die einde, broer en broer Maak ons die lange lewe mee. Vorige Volgende