Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Verse van die tentmaker, Omar, die Persiese digter Die daglig skeur die donker flenters; kyk Dis goud en silwer wat oor die berge pryk, En rooi robyn soos hierdie druiwesap, En net soos hierdie druiwesap so ryk. Sodra die môrerooi die ooste kleur, En eer jy nog die son se goud bespeur, Staan op: dis dag, en met die dag se lig Bruis op die wierook van die wyn se geur. [pagina 369] [p. 369] Kom drink met my die eerste kelkie wyn Vroeg in die fraaie môresonneskyn. Drink en geniet; 'n ander dag kan kom Met, plaas van milde liefde, pure pyn. Eergisteraand het ek tot fees gewy; Van kinderloos Verstand het ek geskei; En vir genot en lewe lewenslus Met die jong dogter van die Druif gevry. Nog gisteraand het ek my smart beween, Ek, uitgeslote ek, wat stil alleen My pad moes wandel deur 'n woesteny Met tyd, en tyd se terge, altwee teen. Wees bly, o vrind; hou vas die uur wat Is, En maak daarvan 'n lewe voor jy mis Die lewenslus om verder voort te gaan Op struikelpaaie waar jy jou vergis. Veeg van jou siel die vrees jy sal vergaan, Want Wysheid weet dat as die doodsklok slaan En die Hiernamaals vir jou beet wil kry, Dat Goedertierenheid jou vrind sal staan. Hul pla my met paaiboelies en beweer Daar's pyn en vlamme wat jou siel verteer. Hou moed; die hel of hemel wat jy erf, Is hier op aarde waar jy nou verkeer. Gegroet, my Lewensloopbaan! Hou jy pyn, Dis goed; plesier, ook goed; altwee verdwyn. Waarom dan kla? Neem wat jy kry, en hom, En drink - al is dit maar 'n slukkie wyn. O Noodlotswiel, wat so ellendig rol En alles flenters trap asof jy dol En sielloos is, ek vra jou, waarnatoe? En ag, jy kan nie sê nie, want jy hol. Die vinger skrywe, en skrif gedaan Gaan voort en sonder ag op jou te slaan Al soebat jy die liewe lange dag En kreun en kerm totdat die nag vergaan. O mensekind, steun nie op vrinde; hou Jou eie pad. Laat staan die naberou; Dra wat jy moet, en huil nie as jy val. En bly jouself in voor- en teenspoed trou. [pagina 370] [p. 370] Met jou, ou vrind, alleen in die woestyn, Met jou, 'n goeie boek, 'n drankie wyn, Dan word die woesteny 'n Paradys Van lewenskleur en lewensonneskyn. Daar in die maanskyn waar die maalstroom bruis, Het ek my bitter droef beween, want tuis Was dit so aaklig vir my; daar was niks, Niks anders as die môrewind se suis. So lawe my met druiwesap vanjaar; En as ek sterwe, van die druiweblaar Maak my 'n doodskleed en begrawe my In die ou wingerd wat sy geure spaar. Kyk, dagbreek kom en skeur die swart gordyn; Die sterre en die dowwe maan verdwyn. Wees bly; wie weet, as weer die duister daal, Of weer 'n nuwe son op ons sal skyn? Vorige Volgende