Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Bang vir die blits Bang vir die blits wat bewe en blink En 'n glaspyp skiet in die sandrige grond? Sku vir die Dood wat sy vinger wink, Met 'n gryns vir 'n glimlag om sy mond? Vrees vir die drank wat ek tog moet drink, Vir die eina van pyn van die laaste wond? Bang vir die reis na ek weet nie waar? Die lug verkleur as die son verdwyn, Algar die wolke het opgegaar Die lewensgloed van die dooi robyn; Hy wat vermors, sal Hy ook nie spaar Bloed van die rose vir skemeringskyn? Nee, ek is bang dat die Dood sal wink, As ek byna te oud is om op te staan: Bang dat die drank wat ek tog moet drink Smakeloos t'rug oor my tong sal gaan; Bang dat ek skaars ooit die blits sien blink As eindlik my lewe is afgedaan. Vorige Volgende