Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 361] [p. 361] Geseënde Skaduwees (1949) [pagina 363] [p. 363] Die harde pad 'n Ou bysiende man, verdwaal in sy eie doolhof van verdriet, waarin geen ligtende sonnestraal as voorspel vir verlossing skiet. Ontnugtering, twyfel, was sy brood; sy beker vol met heksemelk. (Al dors 'n man tot amper dood hy durf nie drink uit daardie kelk.) Van skemer af tot hanekraai, deur bange nagte, stokalleen, net met die moed wat troos en paai, het hy gewag, gesug op reën. Die stortvloed wat dan eind'lik kom, hoe kaal verwoes, hoe wreed kapot, die land ook is, en wat alom die grond laat groen, die boom laat bot. Sy sielsrantsoen van stille krag om met geduld te dra en ly, is lankal, lankal op; hy wag nou sonder hoop om saam te stry. In growwe kettings van grys staal vas om hom deur die tyd geslaan, het hy vir jare skuld betaal met bloed en trane tot voldaan. Sy flets, verlepte oë kyk t'rug deur die duister van vandag, tot waar die goue lelies pryk as voorbeeld vir die nageslag. Vorige Volgende