Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 359] [p. 359] Sestina van die Richtersveld Hier is die veld 'n ware paradys Wat oorstroom met 'n vloed van prag en kleur. Die wind, wat saggies oor die sand se grys Verweerde vlakte waai, versprei die geur Van blomme as 'n wierookdons wat wys Hier is vandag niks wat om winter treur. Lank, maande lank, was hierdie wêreld grys Met elke kloof en helling aan die treur; En nêrens het die groen van gras gewys Op komende prag en bont van blommekleur. Hier was tevore glad geen paradys - Net aaklig droogte pleks van blommegeur. Die wrede son het al wat groen vergrys; Sy folterstraal het al wat leef laat treur Meedoënloos het hy die land gewys Hoe tergend-hard sy hand kon wees. Geen geur Het opgestyg uit hierdie paradys Verskroei tot asvaal en tot roes se kleur. Toe het die reën, die heilige bewys Van liefde vir wat lewe, met sy geur, Die wasem van nat aarde, hier die kleur Van bult en veld verander, en die treur Van maande tot 'n nuwe paradys Herskep, wat sierlik pryk met reënboogkleur. Die voorjaar het gekom met frisse geur Van blom en bos; en oor die veld se grys Getrek die teer tapyte van sy kleur, Wat oral rond, op bult en helling wys, Hoe, na die tergende waternood en treur, Die wêreld nog kan skep 'n paradys. O kleingelowige siel wat sit en treur En niks kan raaksien buite grou en grys, Kyk na die bulte. Dáár pronk prag en kleur En alles wat na somersoordaad wys. Ruik, ruik die wierook van die boegoe-geur En weet, rondom jou pronk 'n paradys. O kleingelowige siel wat aldag treur En twyfel aan 'n moontlike paradys, Kom ruik met my, kom ruik die blommegeur. Vorige Volgende