Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Sing weer vir my Sing weer vir my, Wind wat die seevlak stryk en streel, Sing van veraf verwoeste lande, Sing van die wit geskulpte strande, Sing van die ys en die ewenaar, Sing van al wat my hart beny, Sing van wat ek my kan verbeel Daar skuil in die weste of in die oos, As lawenis om my siel te troos, Want ek is en bly 'n bedelaar. Sing weer vir my, See wie se branders op rotse spat, Sing van die skip wat jou krag verslind het, Sing van jou kleur wat my oog verblind het, Sing van die storm en van doodsgevaar, Sing van alles wat stoei en stry, Sing van wat ek as wins kan skat, Sing van wat ek hiernamaals kry. Ek is so arm dat ek aalmoes vra Vir steun en troos om my las te dra, Want ek is en bly 'n bedelaar. Vorige Volgende