Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die bergpoel Ek spieël die pragte Van sterryke nagte Met die maan as 'n sirkel van silwer omhoog. Al rondom my kante Die hoë bergrante, En half oor my vlak maak die bome 'n boog. Die wind as hy jakker Oor weiveld en akker, Streel saggies my water tot rimpels in kring; Hy laat as hy swewe My fluitjiesriet bewe, Waarin die rooi borrelvink swaai as hy sing. Die bergkruin-fonteine Se water voed myne Jaar-in en jaar-uit soos riviere die see; Die motreën wat mistig, Vrygewig, verkwistig My ruigte benat, bring my bystand en vree. Nòg somer se wasem, Nòg winter se asem, Yskoud in die môres, maak indruk op my Eergister en hede, Ver in die verlede En ver in die toekoms, ek hou wat ek kry. Die son kan my water Verwasem, maar later Vang ek dit terug van die voedende reën; Die wind kan tot brander My kalmte verander, Maar ek bly uiteind'lik oorwinnaar alleen. Die maan wat getye Beskou as haar eie Oorspronklike maaksel geboei deur haar krag, Is nie meesteres nie Wat kwel of kan kwes nie; Van my maar vriendin wat my streel in die nag. My maats is die sterre, Wat skitterlig bêre [pagina 358] [p. 358] Oordag om by nag oor my vlakte te sprei, En val soos vuurpyle Miljoene van myle Die donker lug deur om te nader tot my. Die dowwe planete En glinster-komete Kruis oor my; ek vang op my water die lig Van al wat die hemel In glorie van wemel En snags openbaar as die daghelder swig. Ek slaap in my vrede, 'n Blou-swart geklede Oerkoning van hierdie verwilderde prag. Die kranse omring my, Die bergwind besing my. Ek bly deur die jare die voorbeeld van krag. Vorige Volgende