Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Karoo-winter Suidooswaarts ver blink wit die sneeubedekte Getande Swartberg met sy poorte en klowe, 'n Blou steil rant van hier: die kleurgevlekte Gelykte voor van armoed tans ontrowe, Sy somerroukleed grys met stof soos as Verander met die groen bewys van lewe Wat in hom skuil, die prag wat in hom was En is en bly, verryk, volmaak, verhewe, Is oral rondgesprei. Die sagte rooi Van vygies soos 'n Oosterse tapyt, Die lewendige gousblomgoud gestrooi In oordaad oor die sandsteen en die kryt; Die purper-pers van tulpe en die prag Van jong viooltjies wat die windvlaag streel, En suringbont wat op die sonstraal wag, En kelkies-wyn waarin die bye speel. Veraf die wit-gekroonde berge; nader Hier op die voorgrond, blomme as offerande In luisterryk' weelde, skat op skat vergader, Deur die Natuur, vrygewig, op die lande. 'n Leeurik styg omhoog, klapwiek sy vlerke, En stort sy loflied in die lentelug; [pagina 356] [p. 356] 'n Skilpad met sy bont vrymesselaarsmerke Kruip sedig na sy middagskuilte t'rug; 'n Lammervanger sweef in sierlik' kringe Hoog oor die winterprag van hierdie wyk. Vorige Volgende