Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Slinger my saad waarheen jy wil Slinger my saad waarheen jy wil, o wind, wat die weiland stoor; Beur dit bo na die wolke toe, en strooi dit die klowe in, Warrel dit weswaarts oor die vlei, langs die kronkelende watervoor; Ja dit saggies die sandveld deur, tot dit 'n houvas win Diep in die aarde, êrens waar, Diep in die sand, die water vergaar, Diep in die graf wat die lewe baar. Slinger my saad waarheen jy wil, o wind, wat my smeekklag hoor. [pagina 355] [p. 355] Want ek moet sterwe voordat ek wen Die kleureprag wat my bloeisels ken, En ek moet doodgaan voor ek hou My sierlik aanskyn van rooibont blou, Voor ek my nuwe lewe kry En my groen kan uitstrek, geil en vry, Voor ek kan bot met blommeprag Kan spog op sonryk somersdag. Slinger my saad waarheen jy wil, o wind, wat die weiland stoor. Daar's donkerblou plasse van skaduwees oor die dennebos langs die fontein, Want bo in die lug dryf die wolke wat netnou die motreën sal bring En die trotse klipkrans van die kloof, met sy wisselende skaduwee en skyn Steek uit oor die prag van die veld wat die son tot 'n dienskneg wil dwing En die prag van die veld is ons, die maermanne bont van kleur Met ons uitgehakte blare, met ons uitgestrooide geur, Ons wat staan in gelid, blaar teen blaar geleun, Blom teen blom geskaar, stengel teen stengel gesteun. Eendrag fier in tyd van nood, sterk in swakheid, klaar Vir die wintertyd wat kom as die veld verjaar. Skud ons, wind, en sprei ons saad, die donsies wat ons hou En streel die afgeleefde blom wat sag sy skat ontvou. Vorige Volgende