Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 354] [p. 354] As die suring verlep As die suring verlep en die tulp nie meer bloei nie; As die somer se groen met die droogte vergrys; As die panwater sak dat jy nie meer kan roei nie, En die koning-flamink na die noorde verreis; As die Piet-my-vrou-stem, wat die bos het laat lewe, Verstom in die stilte van najaar se krag, En die bergswael se bont vir die laaste maal swewe Oor 'n veld wat verstik na die wintervog smag, Is dit grondig bewys dat die groen en die geure Wat somer gegee het, vir ewig vergaan? Dat die kou nie kan skilder met net soveel kleure Soos die voorjaar gebruik het oor weiland en laan? Daar is sap in die stamme, en krag in die blare, Nog diep in die hart van die hout opgevou; En nog bloed vir die lewe bewaar in die are Van die bol van die blom wat sy lewe behou. As die jare verby spoed en die skemering nader, Die donkergroen swart van die uiterste nag - En die skimme van gister-voor-gister vergader, En die misstap van vroeër sy vergelding verwag; As die goue skaal breek en die vensters gesluit word, En die donker daarbuite tot binne-in dring; As die lied wat so lief deur die winde gefluit word Geen aalmoes van troos tot die martelaar bring - Is dit geldige getuienis dat wat die verlede Geskenk het, tot niks in die duister vergaan? Of nog verder bewys van kraggewende vrede Vir die siel wat sy eie beproewing verstaan? Die foute van gister, die duur ondervinding, Die namiddag-swakheid - dit tel by die som Van lewe wat loop tot sy eind'lik' verslinding Aleer hy tot kragtiger lewe ontblom. Vorige Volgende