Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 349] [p. 349] Natuurverse As die lemoenbome bot Sysie, wat sing in die suurlemoenbome, Sing nog 'n versie vir my! Versies van liedjies, wat lag as die lente, Ressies van deuntjies geleen sonder rente, Wysies herinner uit lang-dooie drome; Sysie, kom sing dit vir my! Kriekie, wat kriek in die kafhok se gerwe, Kriek nog 'n keertjie vir my! Jy, wat gaan dans met kabouters met kroontjies, Wees my Galuppi, tok-tok met jou toontjies, Fluit die koraal, wat jy oor het geërwe: Kriekie, kom kriek dit vir my! Padda, wat onder die paddastoel bas sing Blaas jou basuin nog vir my! Blaas al jou ouderwetse refreine, Wat ek kan opvang en vashou as myne, Elkeen wat nuuts, elkeen weer 'n verrassing; Padda, basuin weer vir my! Borrelvink, borrel, dit is mos nou broeityd, Sing vir jou maat en vir my! Kwetter van vreugde, uit liefde kom borrel, Hef aan 'n danklied vir elke graankorrel - Graan is so volop, want nou is dit snoeityd; Borrelvink, sing weer vir my! Vorige Volgende