Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Liefdesmart Op 'n miershoop naby die groot pad Het 'n mooi klein meerkatjie gesit; Sy hare was grysvaal en glad, En die punt van sy stertjie was wit. Met sy voorpootjies voor sy gesig, Het hy daar sit te swaai heen en weer; En ek het dit geag as my plig Om hom vriendelik te vra: ‘Wat makeer?’ (As jy iemand sien huil, want sy hart is so seer, Is dit darem jou plig om te vra: ‘Wat makeer?’) Die diertjie het twee maal gesnik Voordat hy my antwoord kon gee; Toe het hy sy koppie geknik En huilerig gesê: ‘Ag, ja-nee; Meneer sal dit nooit nie verstaan; Meneer sal moet self ondervind!’ - Sy voorpootjies veeg weg 'n traan [pagina 348] [p. 348] Wat dreig om sy ogies te blind. (As jy selfs 'n onnosele dier so sien ly, Moet jy jammer tot diep in jou hart vir hom kry.) Toe sê ek: ‘Vertel maar gerus, Miskien weet ek meer as jy dink. Dis droog hierdie jaar langs die kus, Julle het nie genoeg om te drink. Daar's weinig of niks om te vreet, Die honger begin al te piets; En hongerly is, soos ek weet, 'n Nare, ellendige iets.’ (Ja, waarlik, die knyp van die honger maak seer, Veral as 'n vreemdeling vra: ‘Wat makeer?’) Die diertjie het weer begin huil; Sy traantjies loop oor langs sy neus. ‘Vir hongerly sal ek verruil, Ja maklik, die smart wat my kneus! Die droogte hoe swaar dit ook pla, Hoe naar dit ook teister en tart, Is niks teen die pyn wat ek dra Vir altyd hier diep in my hart.’ (Hy sug weer en wys met sy voorpootjies op Die plek waar waarskynlik sy hart nog bly klop.) ‘Maar wat,’ vra ek vriendelik, ‘is fout? Jy lyk vir my fris en gesond. Hoekom is jou hart dan benoud? - Jy maak dit miskien alte bont. Dis moontlik net sinkens wat steek, Of iets wat jy sleg kan verteer - 'n Koutjie te veel knoppieskweek, Maak somtyds jou binneste seer.’ (Dis tog, soos ek voorheen gesê het, ons plig Om iemand wat seerkry se smart te verlig.) ‘Ja-nee,’ piep die meerkatjie weer, ‘My hart en my siel is aan breek. Die oorsaak is dieper, Meneer, As maagsuur of sinkens wat steek. Kyk, daar waar die skilpaaie wei En sedig oor volksake praat, Net pas na die ja-woord aan my, Baljakker sy rond ... met my maat!’ (As liefde gekraak is, dan skeel dit nie meer Om meelyend te troos en te vra: ‘Wat makeer?’) Vorige Volgende