Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Voortrekkers 'n Fragment Kompanies-bosskieter, wil jy gaan Duisende myle hiervandaan, Op reis met lewe en doodsgevaar Na 'n koninkryk op die ewenaar? Na 'n pragtiger, heerliker koninkryk As ooit 'n mens op neer kan kyk Vanaf die hoë berge in kring, Wat soos 'n muur die ryk omring? Dit is die wonderwêreld van Die magtige koning Prester Jan, Wat sinds die tyd van Salomo As priester-keiser troon daarbo. Kompanies-bosskieter, wil jy weet Hoe daardie wonderwêreld heet? Kyk op die kaart met rooi omraam: ‘Monomotapa’ is sy naam. Eeue gelede, voor die tyd Toe met geskenke voorbereid Uit Skebas land, die ooste in, Gereis het Skebas koningin Om self te sien die grootste prag Van koning Salomo se mag En mee te bring die goud bestem Tot opskik van Jerusalem, Het hierdie wonder-ryk ontstaan Uit toiings van 'n volk verslaan In duisend kwaai gevegte glo Met die heerskappy van Faräo. Die groot oase wat kan dra, Diep in die hart van Afrika, Voedsel en water vir volk en vee Het skuilte vir die volk gegee. En Prester Jan, met groot verstand, Het hierdie pragtige wonderland [pagina 346] [p. 346] Omring met bergkrans en woestyn Gekies tot woonstee van sy lyn. Daar het hy hom 'n stad laat bou Wat elkeen wat dit ooit aanskou Het stomverwonderd stil laat staan Oor wat sy oë gadeslaan. Die hoë torings troon daaroor Met kantwerk-koepels van ivoor, En spierwit marmersuile wys Die ingang tot die groot paleis, Waarvan die voorportaal van goud, In 'n kosyn van sederhout, Bewaak word weerskant deur 'n ry Van reuse-sfinkse uitgesny Uit koper, deur die tyd en weer Tot dowwe groen gepatineer, Met oë van geel-groen krisoliet Wat in die maanskyn vonke skiet. Daarbinne is pronk en praal en prag Van dou-voor-dag tot middernag, Want meer as duisend dienaars draal Dag-in, dag-uit deur gang en saal, En honderde trawante staan In harnasse met goud beslaan En helms met silwervleuels op wag, Van dou-voor-dag tot middernag. Die grootste saal, behang met sy In skoonste kleure en ry aan ry Bestik met goud en perlemoer, Wat skitter as die wind dit roer, Is Prester Jan se troonsaal, waar Sy hofstoet en sy raad vergaar: Tweehonderd van sy oudstes, wat Hy as sy allerwysstes skat. Daar is sy hoof-visier, bedaard, 'n Ou man met 'n volle baard, Met kost'lik nardus geparfumeer En swart met henna ingesmeer; Daar is sy skatbewaarder, hy Met die goue sleutel aan sy sy [pagina 347] [p. 347] En die geel gestikte geldsak, wat Die losgeld van 'n vors bevat. Sy regters en sy skrywers sit Aldaar gekleed in groen en wit, Geleerdes wat, deur kennis sterk, Met wysheid vir sy welstand werk. Hy self, die priesterkoning, troon Hoog met sy skitterende kroon, 'n Erfstuk deur die kuns versier Met diamant, smarag, saffier. Kompanies-bosskieter, het jy moed Om deur die woestyn te trek te voet, Met as jou maats net dertien man, Na die wonderwêreld van Prester Jan? Niemand het ooit die weg betree: Niemand kan raad of leiding gee: Niemand is daar om as gids te dien: Niemand het ooit die stad gesien. Kompanies-bosskieter, wil jy nog Jou lewe gaan waag op 'n voortrektog Na dié wonderwêreld om inderdaad Te smous met krale en koperdraad? Vorige Volgende