| |
Die mens is enkel ydelheid
Onder wapperende baniere wat die middagwind ontplooi
(Ja, voorwaar, die mens is enkel ydelheid!)
Staan geskaar die kruistogbende elkeen met sy kruis van rooi,
(O skitter, swaard en wapenskild en herauts-heerlikheid!)
Elkeen vaardig vir die aftog na die vér Jerusalem
Om Saladyn se trotsheid vir die tweede maal te tem.
| |
| |
Daar is dapperes uit Duitsland, daar is helde van Brabant,
En grandees uit verre Spanje soos die heidens swart verbrand;
Daar is ridders van die Kousband, daar is ridders van die Kroon,
Van die Arend en die Olifant en draers van die Vlies;
Daar is Keurvorste en Grawe en 'n Koning pas onttroon,
En 'n persgeklede Priester wat die volk tot Pous sal kies.
Nooit tevore het die wêreld in een kruistog bymekaar
Soveel edeles van sy ridderskap versamel in 'n skaar.
En die edelste van algar en die fierste in die lyn
Was die Broeder van die Tempel in sy mantel van satyn.
Van sy kindstyd-dag begrens
Deur sy swakheid wat hom bind
Tot hy eindelik uitkoms vind
In die Dood wat alles regmaak en wat alle haat verslind!
Dis nie hy, die Tempelbroeder, wat sy kop moet buig en buk
Vir 'n meerdere van aansien (Ag, dis enkel ydelheid!)
As die bitter drank gedrink word in die doolhof van geluk
En die Duiwel by die voorpos staan gewapen vir die stryd;
Dis nie hy, die Tempelbroeder, wat benoud en bang sal smeek
Vir die vyand wat verbysnel om die dolk se laaste steek.
Ook al blink die silwer-bedelpan as teken vir die skyn
Van sy ootmoed en sy armoed, ieder pelgrim met verstand
Weet die Broeders van die Tempel in hul kleed van blink satyn
Is die dapperstes in Christendom, die rykstes in die land.
Laat die Keiser spog op afkoms uit die kaalkop Koningskraal,
En die Keurvors knoei en konkel met die hele Hospitaal,
Laat die Pous sy bulle rondstuur van die Tiber tot die Ryn -
Rotsvas staan die tempelbroeders in hul mantels van satyn.
Oor die hele land versprei,
En die weelde en die rykdom wat die Prins en Pous beny!
Die onderaardse kerker is met fakkelvuur verlig
(Ja, voorwaar, die mens is enkel ydelheid!)
En die regters is in sitting in geheime strafgerig
Onder opdrag van die Koning se gekweste majesteit
Om die Christendom van skande - heiligskennis, kettery
En die vloek van Meester Leonard se laster te bevry.
Die Kardinaal is praeses met twee priesters aan sy sy,
Met assessor-advokate van die Hoë Kanselary.
Hul oë vonkel giftig met die glans van wrede nyd,
Hul vingers klou krampagtig vas aan toga en altaar,
En hul sit met bleek gesigte in hul purper waardigheid
En beraadslaag oor die Tempelier - of Turk of Towenaar.
| |
| |
Die rotte kyk nuuskierig uit van onder die gordyn;
Die wondarts drenk sy windsels in laventel en asyn.
Die folterbeul se fraters staan te wagte op 'n ry
As die grysbaard-hofgriffier gelas: ‘Grootmeester de Molay.’
Meer as wat 'n man kan dra,
En die knyptang en die kiel en die pynlike ondervra!
Dis die statige gestalte deur verdrukking net gestaal,
(Ja, voorwaar, die mens is enkel ydelheid!)
Sy Grootmeestersmag is stukkend - sy gelaat is bleek en vaal
Soos van een wat lank gevas het of half dood is van sy stryd.
Maar in beenderig holtes skitter sy bruin oë met 'n gloed
Wat hom meester van sy regters maak - die Tempelbroeders-moed,
Wat Saladyn eerbiedig het en Omar tot sy spyt
Op Siriese slagvelde tevergeefs probeer het tem,
Die moed wat Prins en Pous kon tart, die trotse dapperheid
Tot glorie van die Tempel en van Christendom bestem;
Sy mantel is aan flarde met die kruis verskeur en vuil;
Die toiing wat hy dra, verhoog die trots wat in hom skuil;
Geen smeekklag om genade sal die foltering van hom verg,
Geen guns of meely sal hy vra van wreedheid wat hom terg -
Hoe na die Dood sy hande strek, hoe bitter swaar hy ly,
Hy staan as Tempelbroeder - een wat tot die dood kan stry!
Verloor is, en wat op die end nog oorbly met berou!
Die wind verwaai die rookwolk oor die oewers van die Seine
(Ja, voorwaar, die mens is enkel ydelheid!)
Die knegte bring meer brandhout, want die vuur begin te kwyn
(O bitter swaar die laaste slag en bitter-suur die stryd!)
Geen wapp'rende baniere pryk meer oor die Temp'lary,
Geen kraanveer-diamant versier mooi mutse van wit sy;
Die Lam wat die verdrukking dra vir Christendom as las
Swig voor die spierwit lelies en die tweekop-adelaar,
En Pous en Keiser voel verlig as in die lug die as
Verstrooi word van Baphomets kneg, die Tempel-towenaar.
Geen graf vir hom wat vir 'n graf twee eeue deur moes stry -
Geen doodseën wat hom rus sal gee, geen lykmis sal hy kry.
Laat platgemaakte pronkpaleis, tot puin verbrande slot
En teer gepleisterde skedelbeen sy riddersroem bespot.
Voorwaar, die mens is ydelheid - puur ydelheid, puur ydelheid!
En roem en eer en prag en praal en Pous en Prins vergaan
| |
| |
Soos môremis, en niks bly oor, want al wat is, word deur die tyd
En deur die wind van gisternag tot stof en slyk verslaan!
|
|