| |
| |
| |
My droompaleis
Ek het gedroom, en in my droom
Was ek 'n rykaard, ryker dan
Die aller-allerrykste man.
En in 'n vlakte, bergomsoom,
Was my groot, pragtig pronkpaleis,
Met mure van groen malagiet,
Agaat en goud en elpebeen
En suile van sardonikssteen,
Wat as die son se strale skiet
Op vroeë môres oor die rand
Geblink het soos 'n diamant.
Van binne was my pronkpaleis
Voorsien van alles wat 'n heer
Van soveel rykdom kon begeer:
Met alles wat die wêreld prys
As skoon en wat die mens beskou
As weelde en in waarde hou.
Die grootste saal was geplavei
Met perlemoen; behang met sy
Gestik met pêrels ry op ry;
En langs die mure, wit soos kryt -
Of die wit aanskyn van die maan -
Het marmerstandbeelde gestaan,
'n Sestigtal wat een vir een
Weemoedig, medelydend, sag,
En swygend neerkyk op die prag
Van perlemoen en elpebeen
En ryk damas en silwerskyn
En groen smarag en rooi robyn;
Van goud en fonkelend' juweel,
Van rondgestrooide wierookgeur
En bont verskeidenheid van kleur.
Ek het my in my droom verbeel
Ek was die Sultan, groot en fier,
En by my was my Ryksvisier.
| |
| |
'n Stokou kêrel, trots en slim,
'n Deftig, uitgedroogde man
Van koningsbloed uit Ispahan.
Met 'n skerp, skitterende lig
Van uit sy beenderig' gesig.
Geen mens so wys as my Visier,
Want hy was kundig in die leer
Oor aan 'n towerformulier
Geknegde dienaars van die ring
Wat Salomo tot diens kon dwing.
En in die groot saal, geplavei
Met perlemoen, behang met sy,
Gestik met pêrels ry op ry,
Het my Visier met kundigheid
Die marmermense langs die muur
Een na die een na my gestuur.
Die eerste was Iskander, hy
Wat heerser van die wêreld was
En vader van 'n keisersras.
‘Nog dank nog denkmaal kon ek kry;
Geen flenter van my werk bestaan;
My hings se roem en myne taan.’
Die tweede was die Sassaniet,
Die hoefsmid wie se voorskoot-vlag
Geblink het oor Teherans prag.
‘Net ondank, onrus en verdriet
Het ek ge-oes; nòg eer nòg roem
Is werd wat mense vrede noem.’
Die derde een was maer en wit,
Gerimpeld, glad geskeer en bleek
En met sy toga deurgesteek.
‘Ook ek, wat Caesar was, besit
Vandag nòg goud nòg graf en erf
Net na-berou waar ek ook swerf.’
Die vierde, Frits, die rooibaard-held
Wat wag om t'rug te kom en treur
Oor alles wat vandag gebeur:
| |
| |
‘Geil lê die groen op bult en veld
Vir net 'n tydjie; dan verskroei
Wat groen was en word afgesnoei.’
Die vyfde, sanger van sy tyd
En gulsig vir genot, tevree
Met alles wat die lewe gee -
‘Dit geld as waar in ewigheid:
Wat stof is, sal tot stof vergaan
En niks wat skoon is, bly bestaan.
Bekroon met rykdom, praal en prag,
Bo mens verheerlik en vereer,
Het ons as heersers geregeer,
En elkeen het uit wêreldmag
As keiser, koning, vors of prins,
Ons aardse roem getrek as wins.
Of met verstand verhewe oor
Sy medemens wat minder weet,
Geheers as wysgeer, pous, profeet,
Of genius-sanger, wat die koor
Van alles wat geluid het, ken
En met sy kennis troos kan wen;
As een wat met sy skeppingskrag
'n Skoner wêreld maak vir wie
Wil luister na sy harmonie,
Of met sy beeldende skildermag
Die lewe voorstel soos dit lyk
Vir dié wat net na skoonheid kyk.
Ons is die skimme van weleer;
Ons is die dowwe droomlandvolk
Wat waarheid en geloof vertolk;
Ons is die kragte wat regeer
Oor wat reeds is en wat sal wees
Hiernamaals in die wêreldgees.
Geen sterfling stort sy sterflikheid,
Hoe hoog of laag sy lewe skiet,
Hoe klein of groot hy is, verniet.
Want elk moet t'rug gee op sy tyd -
Voordat die Dood sy krag verniel -
Die kiem van deug wat hom besiel.
| |
| |
Elkeen van ons het bygedra
Tot hierdie trotse pronkpaleis,
Tot hierdie skone paradys.
Ons is net skimme wat nou kla
Oor wat ons is; maar wat ons was,
Is deel van heel die menseras.’
My slim Visier, ootmoediglik,
Het neergebuk met hoof ontbloot
En sag gefluister: ‘God is groot.
Hy wat die wêreldgang beskik,
Wat nimmer slaap en nimmer rus
En selfs die warrelwinde sus,
Hy gee aan elk sy deel en loon.
Dit is geskrewe en bly staan,
Al wankel ook die son en maan.
Aan een die roem, aan een die kroon,
Aan een die aardse heerskappy,
Aan een die blinde bedelary.
Laat droefnis en verdriet verleen
Die goud wat ewigstralend blink,
Voordat die mens tot stof versink,
Want hy wat moedig staan alleen
Verg van die lewe alles af
Wat ooit 'n skepsel kan verwag.’
My slim Visier, my pronkpaleis
het in my droom soos mis vergaan,
En deur my venster het die maan
Sy silwerskyf van lig gewys
En die bleek, koue maanskyn-lig
Sy glans gestrooi op my gesig.
|
|