Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Doring-rosie Een môre het ek in die blomtuin geloop (Foei tog, my hartlam, 'n doring steek seer) Die son het so mooi op die blomme geskyn, Die lug was so fris en die hemel so blou; Die reuk van die rose was lekker soos wyn. (Ruik tog, my hartlam, die rose se reuk). Een van die rose was bekaf en grys (Foei tog, my hartlam, 'n doring steek seer) Die traantjies het nat oor haar blare gerol, Sy was so mismoedig, so droewig, so naar, Haar hart was gebreek en haar bekertjie vol. (Paai tog, my hartlam, 'n hartjie so seer). ‘Klein rosie, klein rosie, waarom so vererg? (Foei tog, my hartlam, 'n doring steek seer) Waarom tog so huilerig, wat is dit nou weer? Die son is so lieflik, die lug is so mooi, Die blomtuin so vrolik en skoon, wat makeer? (Sê tog, my hartlam, wat het jou passeer?) Die rosie snik tweemaal en nogmaals en sê: (Foei tog, my hartlam, 'n doring steek seer) Haar pieperig stemmetjie snik: ‘Altemit Sou jy ook staan huil, het jy eina soos ek - Ek het per abuis op my doring gesit.’ Vorige Volgende