Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 337] [p. 337] Ander verhalende verse Piet Steenkamp Piet Steenkamp van Patrysvlei, Is op kommando uit, Daar êrens in die Boland Daar rook hy lont en kruit. Tant Leentjie op Patrysvlei Bid vurig dag en nag Dat onse Heer haar Pieter Beveilig in die slag. Die aasvoëls vlie in kringe Hoog oor die slagveldrook, En die meerkatjies wonder Hoekom dit raas en spook. Die veld is grys en aaklig, 'n Droogte der woestyn, Die lug 'n pure wonder Van purper en robyn. Piet Steenkamp van Patrysvlei, Hy lê daar op die grond, Met wydgeopende oë En bloedskuim om sy mond. Tant Leentjie op Patrysvlei Bid vurig dag en nag. Sy weet nie dat haar Pieter Haar êrens anders wag. Vorige Volgende