| |
V
‘Wat? Daardie ... Jan, nee, sonder bril
Is ek saans half bysiende. Stil...
Hotnot, bly stil. Baas Jan sal kyk...
Iets koddigs, maar van hieraf kan
Geen mens beslis of dit 'n man
Of dier is wat daar lê nie.’
Dit is die baas se lyk. Die plaas
En die dof glinster van palmiet...’
| |
| |
‘Daar tussen in, Pa. Daarso kyk
Ja, wrintig, Pa, dit is 'n lyk.’
‘Dan moet ons terug gaan. Stadig nou.
Kees, vat sy riem. Ja, skemergrou
Maak hierdie afdraend pad 'n las
Vir een so oud as ek. Die gras
Loop hierlangs reguit na die gat.’
Dis donker waar die water blink
Net klein ring-rimpeltjies wat wink
Met skyn van ligweerkaatsing draai
Daar op die water, aangewaai
Deur die koel nagwind wat nou suis
Die kloofbos deur, 'n sag gesuis
Van blaargeritsel, en boomrefrein
Wat in die ruig palmiet verdwyn
En weer gebore teen die kring
Van klipsteen wat die kloof omring
Met nuwe akkoorde, sag, egaal
Tussen die ruigteriet verdwaal -
'n Tingerig, half weemoedig lied
Waarin die wind sy sielsverdriet
Verkondig aan die wêreldrond
Van skemer tot die môrestond.
Die oewer van die watergat
Is deur die voetpad afgeplat
Daar op die graskol waar die gras
So weelderig groen die son verras
As in die môre oor die rand
Die eerste sonstraal teen die sand
Hier afval, staan die drie en kyk
Skuins oor die watervlak, gelyk
En glad behalwe waar die wind
Klein golfies opstoot, soos 'n kind
Wat met sy hand, sag spelend roer
Die water van die watervloer.
Die brandertjies skud saggies teen
Die gladde kransmuur van grys steen.
Dit ritsel teen die rietbos aan
En teen die dooi boomstam wat staan
Van blaar ontbloot, van bas ontroof
Ver agter tussen varingloof.
Dit skommel in sy gang die blaar
Die oorskot van verlede jaar,
Wat doelloos drywe eer hy rus.
Deur die eentonige stroom gesus,
Sal vinde as sy dor bestaan
| |
| |
Diep in sy watergraf vergaan,
En saggies roer dit, waar die swart
Van oewerbos die donker tart,
'n Swarter voorwerp koud en styf,
Wat eensaam op die water dryf.
Die veldkornet van Kronkelvlei
Het dou voor dag weer terug gery
En aan die landdros, volgens plig
En voorgeskrewe reël berig:
‘Op Papkuilspoort in hierdie wyk
Is gisteraand gevind 'n lyk
Van 'n bejaarde man, verdrink
In Moormanswatergat. Ons dink
Dit is die lyk van Teuns Tormyn -
Hy't, soos UEdle weet, verdwyn
Net na Van As se moord; sy spoor
Is agtervolg die plaaswerf oor
Tot by die drif. UEdle kan
Die stukke nalees, met die plan
Wat destyds nog deur landdros Thorp,
Wat toendertyd hier op die dorp
Ageer het in UEdles plek.
Van Papkuilspoort is opgetrek.
Ons gissing was toe dat die man
Of dood versuip het, of hy kan
Gevlug het naar die noorde toe,
Maar waarheen wis geen mens of hoe.
En na verloop van jare bly
Die saak nog duister, maar vir my
Is dit nou duidelik dat Tormyn
Terug gekom het, deur die pyn
Van 'n kwaai knaende sielsberou
Al voortgesleep, al vas geklou
Totdat hy op die plek waar hy
Die moord begaan het, skuld bely.
Ek skryf dit nou na gisternag
Se ondervinding, maar ek wag
'n Bietjie deurmekaar, en tog
Die landdros sal verstaan. Daar's nog
So een en ander na te speur
Voordat ons al die drifte deur
En elke uitdraaipad verby
Die regte koers het, maar vir my
Bestaan daar nie die minste skyn
| |
| |
Van twyfel nie - dis Teuns Tormyn.
Sy selfvermoorde lyk is wat
Ons opgevis het uit die gat.’
Sonsondergang se glorie daal
Oor die Verlate Plaas, die straal
Wat oorglip oor die rotserand
Maak 'n lig witkol op die sand
Waarteen die rimpelbrander spat
Deur wind verwek op Moormansgat.
Weer trek die skaduwees saam en smelt
Tot sagte bruinswart oor die veld.
Weer vlieg die naguil ritselend rond
Laag bo die bosbegroeide grond
En die vuurvliegies, vonkies lig,
Speel tussen gras en ruigte dig.
Die nag se wonder sterreglans
Skyn skitterend oor die sandsteen-krans
En die weerkaatsing van sy skyn
Maak Moormansgat 'n silwerlyn,
'n Blink draad, skuins gesien, geroer
Deur die sag nagwind wat die vloer
Laat rimpel en die sterreskyn
Daarop weerkaats laat groei en kwyn.
|
|