Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 331]
| |
‘Ja,
Dis net hier by die vuurplek, Pa.
Toe het hy verder rond gedwaal -
Die hoefspoor hier - hy't afgesaal
En toe die perd laat loop...’
‘Daarna
In hierdie rigting iets gedra -
Iets swaars - kyk hier, sy spoor is grof
Die voorpunt diep, van agter dof...’
‘Nee, Pa, hy het gehardloop.’
‘Juis.
Ek dink jy's reg - weg van die huis.
Ja, kyk, jy's reg. Ekself sou gis
Dat hy goed oor 'n ses voet is:
Die afstand tussen hierdie spoor
En daardie een is twee voet oor.
'n Langbeen-kêrel. Teuns was ook
'n Lang skraal man...’
‘My baas, hy spook,
Hy het ons netnou algar vas,
Baas Teuns, my baas, met krimp-paljas.’
‘Skei uit, ou Kees, geen spook of skim
Het hierso van sy perd geklim.
Die baas het net maar afgesaal
En toe 'n bietjie rondgedwaal.
Ons kry hom netnou, en sal hoor
Hoekom hy hier is. Volg die spoor.’
Die laat namiddagson bestraal
Die hoë krans, waar oor die vaal
Gelyktes van die sandsteenklip
Die kleur-skakerings stadig glip;
Die langgerekte skaduwees val
Al donkerder oor Tierkopdal.
Die speurders agtervolg die spoor
Die plaaswerf en die wapad oor
Waar duidelik in die sand getrap
Die voetspoor lê van elke stap.
Hier loop dit langs die heining waar
Die droë blare opgegaar
Deur die reën-draende westewind
'n Bosbeskutte rusplek vind,
Daar langs die melkbos wat sy melk
Gestort het, wie se groei verwelk,
Tot doodgaantoe gekneus, omdat
| |
[pagina 332]
| |
Sy takke oorrank oor die pad
Deur onverskillige voet betree
Waarteen sy dood getuienis gee.
Hier tussen riet en ruigtegras -
Die stroom se oorloop vlei-moeras -
Waar elke platgetrapte halm
'n Verdere getuienis galm;
Geen bloedhond se gevoelige snoet
Is hier meer nodig om die voet
Van hom te volg wat hier verby
Geloop het. Op die harde klei
Bo teen die bult wat bruin-geel skyn
As die laat middagson verkwyn
En die gestreepte skaduwees oor
Die bult verlenger, lê die spoor
Tot by die oorhang, waar die krans
Nou goudgevlek met sonstraal glans
Wat oor sy steil gelyktes spat,
Trots afkyk op die Moormansgat.
Stil in die donker dieptes skyn
Die watervlak, 'n reguit lyn
Van duister swart maar tog verlig -
Soos op 'n smartvol aangesig
'n Trek van glimlag vlugtig speel -
Deur die weerkaatsing van die geel
Gevlekte bo-lug, wat behou
Die dalende son se goud, en nou
Al langsaam gryser silwer word,
As in die kloof die skemer stort
Sy groen bruin skaduwee en die veld
Se groot swart kolle samesmelt
Stil lê die watervlak; daar roer
Geen rimpel oor die watervloer
Net hier en daar, waar deur die riet
'n Floue ligstraal op hom skiet,
Daar lyk dit net asof dit bewe,
Gestoor deur iets wat oor hom swewe
'n Vinnige kleurverandering
Wat ligte opstoot-rimpels bring.
Die veldkornet, sy voorkop nat
Met sweet van sukkel, want die pad
Is steil en klipperig, staan te blaas
En kyk op die Verlate Plaas
Waaroor die skaduwees, opgegaar
In bos en rand, nou aanmekaar
Tesame trek oor tuin en werf
Deur die aandskemering groen geverf.
Sy oog dwaal links waar in die kloof
| |
[pagina 333]
| |
Die grys van wilde oliewenloof,
Van riet en vlier en varingboom
Die donker watervlak omsoom.
En oor die steil krans, klip aan klip,
Die laaste spoor van daglig glip.
Vlak agter staan die seun en trek
Vir Bliksem terug; met ope bek
Al hygend beur die hond vooruit
Soos een wat gulsig op sy buit
Wil aanhou, skoon daarvoor hom gaap
Die afgrond waar die water slaap
En agter, bewerig en bevrees
Vir wat hier kan gebeur, ou Kees.
‘Tot hierso loop die spoor. En nou?
Die kliprant hier is glad; dit hou
Geen teken nie, maar kyk, die hond
Ruik nog die spoor daar op die grond.
Dus moet hy hier...’
‘My baas, my baas
Kyk, daar's waarom die hond so raas.’
‘Waar?’
‘Daarso, baas.’
‘Vervlaks, dis net
Puur bos en water...’
‘Baas, hy het
Hier afgespring; my baas, ja kyk
Daar op die water swem sy lyk.’
|
|