| |
| |
| |
III
‘Daar sien jy Jan. Tormyn se roem
Staan nog vandag. Die swartvolk noem
Hom towenaar. In daardie tyd
Het hul dieselfde onnoselheid
Verkondig en ons kom vertel
Die baas het afdraand na die hel
Gevlieg; die goed was bang, so bang
Geeneen wou meegaan oor die hang
En tog - 'n mens moet waarheid praat.
Sy volk het nie vir Teuns gehaat,
Hy was vir hul 'n goeie baas
En op die ou Verlate Plaas
Was nooit gebrek aan werksvolk; hy
Het net soveel hy wou gekry.
'n Koddige vent, en onbeskof
Uitdaend en in sy woorde grof
En nie vir omgang goed geskik,
Miskien deur lotjie aangetik.
Ja, meermaals moes ek dink die man
Gedra hom soos 'n gek, en dan
As ek weer met hom praat dan vind
Ek hom goedhartig soos 'n kind.
'n Raaisel, seun. Die hele saak
Bly puur 'n raaisel, en dit maak
My duiselig om daaroor te dink
Hy het mos in die drif verdrink -
Dit moet so wees. Niks anders skyn
My moontlik nie. En Teuns Tormyn
Was, soos ek sê, 'n snaakse man,
'n Koddige vent, verstaan jy, Jan?’
‘Soos Pa my die geskiedenis
Vertel, ja. Maar ekself sou gis
Hy't êrens weggevlug en bly
Daar in die vreemde, veilig, vry,
Miskien ge-eer en hoog geskat
As goeie burger sonder klad.’
‘Dit mag so wees, ou seun. Ek weet
Die storie is al lank vergeet
Ofskoon dit destyds deur die land
Geklink het en ook naderhand
'n Hofsaak uitgelok het wat
Bra lank gesloer het. Moormansgat
Lê nie op Teuns se grond; dit val
(So sê die kaart) in Tierkopdal
Wat grens aan Papkuilspoort; in kort
Daar was geeneen aan wie transport
| |
| |
Kon oorgemaak word; Teuns Tormyn
Het spoorloos, soos ek sê, verdwyn,
En toe die Weesheer, kort daarna,
Vereffening van die boedel vra,
Het moeilikheid ontstaan en twis
Wat net 'n hofsaak kon beslis.
Daar was geen erfgenaam vir die plaas.
Die Weesheer moes, as voog, in haas
Laat rondsoek, uitstel, adverteer,
Weer soek en uitstel, keer op keer,
Van Wyk op Tierkopdal bestry
Oor grenslyn duskant van die vlei.
Ou Morton het dit opgemeet
Maar een of ander iets vergeet -
En kan my nie herinner wat
Dit eintlik was - maar Moormansgat,
So het Van Wyk beweer, moet val
Binne die grens van Tierkopdal.
Daaroor het dus 'n harde stryd
Ontwikkel in die hof, wat tyd
En geld gekos het, baie geld
En baie tyd; dit staan vermeld
(Jy kan dit nalees as jy wil)
In die koerante. Die geskil
Is eindelik met 'n vergelyk
Tussen die Weesheer en Van Wyk
Geskik. Sindsdien lê daardie plaas
Onder die Weesheer, sonder baas.’
‘Het Teuns geen testament gemaak?’
‘Daar was van testament geen spraak.
Geen naverwant wat iets kon eis,
Sy seggingskap oor wat Tormyn
Agtergelaat het, en dit skyn
Die hof wou ook nie sommerso
Op goed gesag, hoorsê, en glo,
Dit aanneem dat hy dood was...’
Dit kon 'n kans tot knoeiery gee.’
‘Presies, jy's reg, Jan. Ek verstaan
'n Jaar of ses moet eers vergaan
Voordat die hof jou dood beskou
Al is jy werklik dood. En nou
Lê daardie ou verlate plaas
Onder die Weesheer, sonder baas.’
| |
| |
‘Dit is 'n snaakse storie, Pa,
Was hy dan stokallenig daar?’
Ek het jou mos vertel Tormyn
Was halfpad mal: (Kyk, hier's die lyn
Waaroor die twis was; daardie klip
Is op die plaaskaart aangestip
As tweede baken, maar dit val
- Geen twyfel nie - in Tierkopdal)
Maar van Tormyn gepraat, hy was
Alleen op Papkuilspoort; Van As
Het nou en dan kom kuier, maar Teuns
Was wewenaar met twee tweelingseuns
Wat altwee - ja, ek vra soms hoe
Ons liewe Heer ons daarheentoe
Kan voer waar smart en twyfel steek
So hard geniepsig dat ons breek.
Miskien het dit op Teuns gewerk -
'n Man moet moedig wees en sterk,
'n Christen tot in murg en siel
As iets soos dit sy troos verniel
Om nog kordaat-orent sy man
Te staan al kraak sy hart daarvan...’
‘Maar wat bedoel Pa nou?’
Vra jy nou so onnosel dom
Wat ek bedoel? Kan jy nie hoor
As ek jou iets vertel nie? Oor
En oor het ek gesê die twee,
Dis sowat dertig jaar gelee,
Het altwee witseerkeel gekry,
Ek vra mos hoe ons liewe Heer
So iets kon toelaat? Op een dag,
Tesaam, gelykop, met een slag
Is altwee dood, die tweelingseuns,
'n Swaar beproewing vir neef Teuns.
Daarna was hy so stokalleen
Soos Moses op die berg waarheen
Hy opgeklim het voor sy dood
Om stokalleen met sterwensnood
Te worstel. Daar's die rede, Jan,
| |
| |
Vir wat geword het uit die man.
Na so 'n bitter harde slag
Wat kon jy van Tormyn verwag?
Net soos 'n kluisenaar het hy
Daar eensaam op sy plaas gebly
En net Van As het af en toe
By hom kom kuier of twis, en hoe
Die twis ontstaan het, wie daarmee
Begin het, eerste aanstoot gee
Of eerste klap of eerste grens,
Vanwaar? Van wie? Dit weet geen mens.’
‘Daar moet tog iets gewees het, Pa,
Oom Teuns tot doodslag aan te ja.’
‘Wie kan dit sê, of wie kan gis
Wat aanknoopspunt was vir die twis?
Maar kyk, daar is die werf; ry deur
Die bome daar, Jan. Ek bespeur
Geen onraad hier nie. Waar's die plek?’
‘Daar gunter, oubaas, by die hek;
Daar langs die groot safraanpeerboom
Daar lê, my baas, die saal en toom,
En naas hom, oubaas, op die gras
Daar lê die vreemde baas se jas.’
‘Nou goed, Jan, vat vir Bliksem; ek
Sal Vonk se riem neem. Hier's die hek.
Ons hoef nie uit te span nie. Bind
Die perde aan die saal. Die wind
Is noord. Nee, Jan, jy moet maar bly
Hier by die kar, en Outa, jy
Kom saam en wys die plek.’
Dit spook te veel hier op die plaas,
Kees sal die perde oppas.
Vir baas die plek, die einste plek,
Gaan wys, my baas, daar by die hek.’
‘Goed. Gee vir Bliksem hier. Kees, dê,
Vat jy sy riem; as jy wil hê
Die hond moet vir jou byt, nou ja
Dan hoef jy my net weer te pla.’
| |
| |
‘My baas, ek sweer, my baas, ou Kees
Sal hanslam mak van nou af wees.
Maar baas, baas Teuns se krimp-paljas
Spook hier, my baas, nou eersteklas...’
‘Bly stil, jou skepsel. Ja, dis waar
Hier lê die saal en toom, en daar,
Daar lê die oorjas. Jan ... Jan...
Kom hier, seun, laat die perde staan.
Kyk, hier's die vuurmaakplek; die as
Is ongestoor, en daar die jas.
Waar is die perd? Kees, soek die perd...’
‘My baas, ou Kees is niks meer werd,
Die ontong speel tot in my murg -
My baas, hy sal ons dood verwurg.
Baas Teuns se krimp-paljas, hy bruis
Soos gemmerbier, rondom die huis...’
‘Verspotte Hotnot, is jy bang
Om 'n los hondmak perd te vang?
Daar loop hy - kyk, daar is hy Jan,
Hy wei vreet-vreet, loop keer hom, man.
So ... wrintig waar, hy's mooi, die dier,
Maar wat op aarde maak hy hier?
Waar is sy baas? Die oorjas Kees,
Gee hier die jas. Nee, seun, ek vrees
Dit sê ons bitter weinig. Pyp,
'n Ou een, mondstuk afgeslyp -
'n Doppiespyp, Transvaalse twak,
Dis al hier in die linkersak.
Die regter een is leeg. Geen naam
Op jas of twaksak. Set hul aan
Die honde, Jan. Jy, Kees, loop voor.’
|
|